Mosie van wantroue: Betogings landwyd, opposisie-LP’s vol hoop

Foto: Jonisayi Maromo/ANA.

Lede van die EFF het Dinsdagoggend op Kerkplein in Pretoria bymekaargekom voor hul optog na die Uniegebou.

Benjamin Disoloane, EFF-leier in Tshwane, het aan African News Agency gesê dié optog is in solidariteit met ander optogte wat landswyd gehou word, veral dié in Kaapstad waar verskeie organisasies na die Nasionale Vergadering sal opruk.

“Ons wil seker maak [pres. Jacob] Zuma val. Ons is vol vertroue dat Zuma vandag uitgestem sal word – ons doen ons deel dié kant,” het Disoloane gesê.

Daar was intussen verskeie gewelddadige optogte in Gauteng, onder meer in Mamelodi en Atteridgeville. Paaie in Soweto en Turffontein is ook geblokkeer. Teen 10:00 was die M1, N1 en N3 nog oop vir motoriste.

Volgens Disoloane is daar nie planne om vandag ʼn memorandum by die Uniegebou te oorhandig nie.

Daar was vanoggend ʼn sterk polisieteenwoordigheid by die Uniegebou en verskeie sakeondernemings was skugter om hulle deure oop te maak omdat hulle bang is vir moontlike plundering.

Disoloane het egter gesê daar is geen rede vir ondernemings om te sluit nie. “Ons is ʼn gerespekteerde organisasie, ons plunder nie. Daar is aansoek gedoen vir hierdie optog en dit is goedgekeur. Ons optog is vreedsaam. Die polisie is net hier om hulle werk te doen, ons is nie geïntimideer deur hulle nie.”

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die Paul Kruger-, Thabo Sehume-, Lilian Ngoyi-, Du Toit-, Steve Biko-, Hamilton- en Leyds-kruising sal beïnvloed word. Volgens Mahamba sal die optog om 14:00 tot ʼn einde kom en sal optoggangers dan van 15:00 af hul weg uit die stad maak.

Foto: Jonisayi Maromo/ANA.

Die optogte kom nadat Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, Maandag aangekondig het die mosie van wantroue in die president sal tydens ʼn geheime stemproses plaasvind. Die ANC het spoedig daarna ʼn verklaring uitgereik dat hy vertoue in sy lede het en dat die geheime stemming nie die uitkoms van die mosie sal beïnvloed nie. “Ons het geen twyfel dat hierdie mosie, soos die talle voor dit sal faal nie,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC gesê.

Die ANC het sy LP’s gewaarsku om nie teen Zuma te stem nie omdat so ʼn skuif die regering inmekaar sal laat tuimel en op die lange duur nadelige nagevolge sal hê.

Mmusi Maimane, DA-leier, Julius Malema, EFF-leier, Narend Singh, IFP-LP, Kenneth Meshoe, ACDP-leier, Pieter Groenewald, VF Plus-leier en Musiuoa Lekota, Cope-leier, het die media gister toegespreek.

Maimane het Mbete se besluit as “histories” bestempel. Malema was só oortuig dat die stemme téén Zuma so oorweldigend sal wees dat hy sover gegaan het as om na Mbete as “die waarnemende president” te verwys. “As Baleka teen die partylyne kan gaan, kan die ANC-LP’s ook,” het Malema gesê.

Die Nasionale Vergadering bestaan uit 400 LP’s waarvan 249 tot die ANC behoort. In totaal is daar 201 stemme teen Zuma nodig om die mosie te laat slaag.

Die mosie sal van 14:00 af gedebatteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

Ek sien hulle het alweer asblikke omgegooi in hulle Madibastraat.

m ·

Zuma gaan niks oorkom nie. gebruik eerder daai energie om hierdie land se ekonomie op te bou.

jd ·

Let’s pray like we’ve never prayed before South Africa!!! Thank you Lord for an opportunity for New Beginnings! 8-8-8 the 8th of the 8th month and the 8th motion of no confidence. The Biblical meaning of the number 8 is…..”New Beginnings ”  Isaiah 43:18-9

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.