Mosie van wantroue: Debat begin

Optoggangers in Kaapstad ter ondersteuning van die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma (8 Augustus 2017). Foto: Twitter via @Our_DA

Die debat oor die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma het Dinsdag om 14:00 in die parlement begin.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het eerste geleentheid op die podium gehad. Maimane het gesê hoewel daar verskillende partye met verskillende beleide in die parlement sit, is almal verenig in ʼn liefde vir Suid-Afrika en ʼn lojaliteit teenoor die grondwet.

Maimane het gesê hy het in Soweto grootgeword en eerstehands gesien wat onderdrukking aan die mense van Suid-Afrika doen. “Nooit het ek gedink dat ek jare later ʼn ander soort onderdrukking sal beveg nie – die onderdrukking van ʼn korrupte president wat gekaap is deur ʼn kriminele sindikaat.”

Maimane het by ANC-LP’s gepleit om volgens hul gewete te stem en te stem vir die eerbare en regte ding. Hy het oudpres. Nelson Mandela aangehaal wat gesê het: “Mag jou keuses jou hoop weerspieël en nie jou vrese nie.”

“Ek vra julle vandag om te stem vir hoop. Die hoop dat ons die korrupsie wat ons mense onderdruk kan oorwin. Die hoop dat ons Suid-Afrika ʼn beter plek vir ons kinders kan maak. As ons vandag die regte ding doen, sal ons ons kinders die beter toekoms gee wat hulle verdien. Stem vir jou hoop, nie vir jou vrese nie. Ek pleit by julle, kom ons sit die mense van Suid-Afrika eerste en stem om Jacob Zuma vandag uit sy pos te verwyder.”

ANC-LP Doris Dlakude het tydens haar beurt op die podium teruggekap deur te sê die ANC het nog altyd sy foute erken en onderneem om dit te reg te stel. Sy het verwys na Zuma se instemming om ʼn kommissie van ondersoek op die been te bring om staatskaping te ondersoek. “Ons sal ons nie laat uitverkoop nie. Ons weet wie ons hierheen gestuur het. Ons sal vir die ANC stem en verwerp hierdie mosie met die minagting wat dit verdien,” het sy gesê.

Optoggangers in Pretoria ter ondersteuning van die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma (8 Augustus 2017). Foto: Jonisayi Maromo/ANA.

Julius Malema, leier van die EFF, het op sy beurt gesê die mosie gaan nie oor die ANC nie, maar oor Zuma wat “die mees korrupte individu in hierdie land is”. Malema het die ANC gewaarsku dat indien hulle nie verander en verbeter nie, hulle in 2019 nóg verder by die stembus sal verloor.

“Ons het nie ʼn probleem met ʼn kabinetskommeling nie, maar ons het ʼn probleem daarmee dat die kabinet geskommel word deur mense wat nie verkies is nie. Ons staan op teen die Guptas. Ons staan op teen die individue wat die mense se mag aan ʼn familie van buitelanders gegee het,” het hy gesê.

Hy het ook ʼn beroep op ANC-LP’s gedoen om met hul gewete te stem. “Dit is ʼn geheime stemproses. Jou gewete bly by jou. Jy weet ons is reg. Julle skryf jul eie geskiedenis. Jy sal geoordeel word aan die geskiedenis wat jy geskryf het.”

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê ʼn president kan vertrou word wanneer hy in die belang van die mense van die land optree. “Wanneer ʼn president bereid is om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid te aanvaar vir die dade van die regering en die dade wat hy toelaat om te gebeur. Wat ons in Suid-Afrika het, is ʼn president wat voortdurend die blaam op iemand anders plaas. As die ekonomie nie groei nie, is dit witmonopoliekapitaal se skuld. Dit is nooit die president se fout nie, dit is altyd iemand anders se fout.”

Groenewald het aan ANC-LP’s gesê indien hulle nie die mosie van wantroue in Zuma ondersteun nie, hulle ʼn boodskap aan Suid-Afrikaners sal stuur dat die probleem nie die president is nie, maar die ANC-regering.

Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het ʼn beroep op LP’s gedoen om nie “vir iemand te stem wat vir ons mense gelieg het en saam met sy vriende, die Guptas, gesteel het nie”.

LP’s sal na afloop van die debat tydens ʼn geheime stemproses oor die mosie stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.