Mosie van wantroue in Gauteng-premier

Gauteng-premier David Makhura (Foto: ANA)

Die DA stel Dinsdagoggend in die Gautengse wetgewer in Johannesburg ʼn mosie van wantroue voor in die Gautengse premier, David Makhura, op grond van die 144 mense wat dood is in die Life Esidimeni-skandaal.

Die oorledenes was almal psigiatriese staatspasiënte wat in die sorg van die Gautengse departement van gesondheid was toe hulle dood is. Die provinsiale departement van gesondheid het die verantwoordelikheid gehad om na hulle om te sien, maar het dié rol uitgekontrakteer na private diensverskaffers wat nie voldoende daarvoor toegerus was nie. Dit het gelei tot die dood van die pasiënte.

ʼn Kommissie van ondersoek gelei deur voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het verdoemende bevindings teen die Gautengse regering gemaak en die DA meen die finale verantwoordelikheid berus by Makhura as premier.

ʼn Mosie van wantroue is die sterkste vorm van politieke sensuur en as dit slaag sal die premier en die hele provinsiale kabinet moet bedank.

Die kanse op sukses vir die mosie is uiters skraal omdat die ANC tans ʼn volstrekte meerderheid in die wetgewer het en die party in Gauteng besonder eensgesind is. Dit is ook nie tans duidelik of die kleiner opposisiepartye in die wetgewer die DA se mosie sal steun nie.

Die handeling is dus grootliks simbolies en sal groter druk op die ANC plaas in die aanloop tot aanstaande jaar se algemene verkiesing. Dit sal die gebeure ook vars in die geheue van die kieserskorps hou.

Die DA se aanval in die debat sal gelei word deur die party se provinsiale leier, John Moodey, ondersteun deur die DA se langsdienende lid in die wetgewer, Jack Bloom, en die party se nasionale woordvoerder, Refiloe N’tsheke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SjN ·

en so trek al die comrades n vet salaris sonder om die werk te doen.

Wilma ·

Wys net. Comrades van anc voel vere vi die publiek. Gee nie eers n flenter om dat soveel onskuldiges gesterf het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.