Mosie van wantroue in Makhura misluk

David Makhura, premier van Gauteng Foto: GCIS

Die mosie van wantroue wat deur die DA teen David Makhura, premier van Gauteng, ingestel is, en Dinsdagoggend in die provinsiale wetgewer gedebatteer is, het misluk.

Gwen Ramokgopa, Gautengse LUR van gesondheid, het vroeër Dinsdag gesê die poging van die DA om Makhura uit sy amp te verwyder oor die Life Esidimeni tragedie, is ʼn goedkoop politieke truuk om die provinsie oor te neem.

Ramokgopa het tydens die debat oor die mosie van wantroue in Makhura aan die wetgewer gesê die ANC respekteer die wense van die families dat hierdie tragedie nie gebruik moet word vir “politieke punte” nie.

“Wanneer ons terugkyk na hierdie tragedie, is dit met swaar harte. Die DA wil Gauteng ten alle koste oorneem, insluitend om op die wense van die families te trap.”

Volgens haar het Makhura niks om weg te steek nie en het hy homself in die kollig geplaas toe hy voor die arbitrasieverhoor verskyn het.

John Moodley, hoof van die DA in die provinsie, het gesê Makhura en sy uitvoerende span het die Grondwet oortree tydens hul hantering van die oorplasing van psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na talle ongelisensieerde NRO’s waar meer as 140 pasiënte dood is weens verwaarlosing en verhongering.

Moodley het gesê Gauteng het vertroue in Makhura verloor en hy moet uit sy amp verwyder word. “Hy moes die eerbare ding gedoen en bedank het. 144 mense is tot die dood gevonnis, erger as diere behandel en in bakkies vervoer.”

Hy het ook gesê Qedani Mahlangu, die voormalige LUR van gesondheid, se bedanking ná die skandaal aan die lig gekom het, was nie eerbaar nie, aangesien sy nooit berou getoon het nie.

Maroela Media het vroeër berig die DA se handeling is as grootliks simbolies gesien omdat die mosie se kans op sukses baie skraal was aangesien die ANC tans ʼn volstrekte meerderheid in die wetgewer het. Die mosie sal egter na verwagting groter druk op die ANC plaas in die aanloop tot aanstaande jaar se algemene verkiesing. Dit sal die gebeure ook vars in die geheue van die kieserskorps hou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.