Mosie van wantroue in NMB-burgemeester

Retief Odendaal spreek die skare Vyrdagoggend buite die Veremarksentrum in Gqeberha aan (Foto: DA Nelson Mandela Bay/Facebook)

Daar was Vrydagoggend ʼn groot teenwoordigheid van DA-lede by die Veremarksentrum in Gqeberha, Oos-Kaap, om die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, Retief Odendaal, te ondersteun.

ʼn Mosie van wantroue in Odendaal en die metro se veelpartykoalisieregering is Vrydagoggend tydens ʼn spesiale raadsvergadering gebring. Die mosie fokus daarop om Odendaal as burgemeester uit die metro te verwyder.

Sy lot is in die hande van 120 raadslede wat tydens die vergadering teenwoordig is.

Die vergadering was veronderstel om om 09:00 te begin, maar is al twee keer uitgestel.

Odendaal omhels een van sy ondersteuners (Foto: DA Nelson Mandela Bay/Facebook)

Odendaal het net ná 12:00 op sy Facebook-blad gesê die vergadering is uitgestel deur die speaker van die metro, Gary van Niekerk. Van Niekerk is deel van ʼn nuwe koalisie, wat bestaan uit die ANC, EFF, Northen Alliance en Patriotic Alliance (PA).

“Die doel van dié nuwe koalisie is om die DA se veelpartykoalisieregering uit die metro te gooi,” sê Odendaal.

“Dit is wel duidelik dat dié koalisie nie hul huis in orde het nie. Volgens inligting stry hulle steeds oor posisies. As hulle nie eers kan besluit watter party watter posisie kry nie, hoe wil hulle dan ʼn hele stad bestuur?

“Ons kan die publiek verseker dat die DA alles in sy vermoë doen om hierdie mosie te beveg.”

Volgens Andrew Whitfield, DA-LP, het die ANC en EFF ʼn mosie van wantroue sonder enige feitelike motivering gebring.

“Hulle het vasgehaak by ʼn nie-bestaande bevinding deur die ouditeur-generaal (OG) teen die NMB-onderburgemeester wat die OG sedertdien twee keer teruggetrek het. Die motivering agter die mosie van wantroue is dus as ongegrond en sonder waarheid bewys,” sê Whitfield.

“Sedert die koalisie agt maande gelede die leisels van die metro oorgeneem het, was daar verbeterde dienslewering, beswering van korrupsie en optimisme en hoop by inwoners. Die ANC-EFF-koalisie wil hierdie vordering ontspoor en hul sakke met die stad se geld vul.”

Teen die tyd van publikasie was die vergadering nog nie afgehandel nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sean ·

NMB gaan vinnig agteruit onder anc Ek sien dit met my eie oë as ek daar gaan vakansie hou Onder die DA is die paaie en strande skoon Daars oral polisie en alles werk Dit voel selfs of die mense vriendeliker is

Madeleine ·

Was in April in PE
Was erg geskok!! Vuil en lyk Sleg oral
Strande vuil
Water ruik soos riool.

JohanR ·

Dit word die burgermeester shuffle genoem. Geen dienslewering nie, net die burgermeester shuffle. Dankie tog hier in die Wes-Kaap staan die DA en die burgermeester net te styf, of daar sou miskien ‘n EFF burgermeester aangestel word…..bewaar ons!

Samuel ·

Enigeen wat nie korrup is nie en nie die cANCer steun nie, moet uit! Dit is tog ooglopend dat die ANC-kaders die Metro ook wil laat verval in totale chaos. En so kyk CR toe hoe our people alles opneuk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.