Mosie van wantroue in Ramaphosa dalk uitgestel

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die mosie van wantroue in pres. Cyril Ramaphosa, wat vanmiddag in die Nasionale Vergadering moet dien, is heel moontlik van die baan.

Die mosie is ingestel deur die African Transformation Movement (ATM), wat net twee parlementslede het.

Die ATM sukkel om enige noemenswaardige steun, buiten die EFF se 44 parlementslede, vir die mosie te werf. Die party het die steun van 201 parlementslede nodig vir die mosie om te slaag.

Een van die groot uitdagings vir die ATM is dat die speaker van die parlement, Thandi Modise, besluit het dit sal ʼn ope stemming wees. Dit beteken ANC-lede sal nie in die geheim teen Ramaphosa kan stem noudat hul party opdrag gegee het dat hulle vir hom stem nie.

Die besluit tussen ʼn geheime en ʼn ope stemming is die prerogatief van die speaker.

Die ATM het hom reeds tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend en sy aansoek dat stemme in die geheim uitgebring mag word, word Donderdagoggend – net enkele ure voor die mosie veronderstel is om voort te gaan – aangehoor.

Die DA het intussen gesê hy gaan buite stemming bly.

Natasha Mazzone, die DA se hoofsweep, het die mosie as beuselagtig bestempel en sê al wat dit sou wees, is ʼn vermaaklikheidsbreuk tydens parlementêre werk.

Die DA het gesê die feit dat sy lede nie gaan stem nie, beteken nie die party gaan die president nie aanspreeklik hou nie. Mazzone het gesê as Ramaphosa nie sy ekonomiese hervormingsplan soos beloof in werking stel nie, hy sy besluit om buite stemming te bly in die toekoms sal heroorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Androclus

Dankie dis ‘n ope stemming nou kan Zuma en Ace ondersteuners nie kan voorgee nie.

Sarel

Uitstel..nes al die Hofsake

Maria

Ace moet liewer bedank, hy is lankal op Eisj en sy gedrag soos uitgelê en bewys deur wonderlike ondersoekende joernaliste ruik na ernstige verrotting .