Mosie van wantroue in Ramaphosa op pad na mislukking

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Kopane Tlape/GCIS)

’n Mosie van wantroue in pres. Cyril Ramaphosa, wat ingedien is deur ’n klein politieke party met hegte bande met die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, lyk of dit beslis gaan misluk.

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, het Donderdag ingewillig dat ’n mosie van wantroue, ingedien deur die African Transformation Movement (ATM), volgende Donderdag voor die Nasionale Vergadering kan dien.

As die meerderheid van die Nasionale Vergadering vir so ’n mosie stem, is Ramaphosa nie meer president nie en moet die Nasionale Vergadering ’n opvolger vir hom aanwys. In so ’n geval sal adj.pres. David Mabuza die gunsteling wees om die land te lei.

Die ATM is ’n klein party met net twee LP’s. Die party se steun is grootliks beperk tot die suide van KwaZulu-Natal en die noorde van die Transkei. Die stigtersleiers van die party het in die aanloop tot die party se stigting baie foto’s saam met Magashule geneem en daar is hardnekkige gerugte dat Magashule persoonlik en finansieel by die stigting van die ATM betrokke was, hoewel Magashule dit ten sterkste ontken.

Die penarie vir die ANC is dat daar baie kornuite van Magashule en oudpres. Jacob Zuma in sy parlementêre koukus sit, en dat verlede jaar se swakker ANC-verkiesingsuitslae beteken die ANC het net 229 setels, so as die hele opposisie en 30 ANC-LP’s vir ’n wantrouemosie stem, is Ramaphosa uit.

Dit lyk egter of minstens twee groot opposisiepartye, te wete die DA en die VF Plus, teen die mosie kan stem.

Die hoofsweep van die DA, Natasha Mazzone, het by navraag aan Maroela Media gesê die DA met sy 84 LP’s sal beslis nie die mosie steun nie.

“Die mosie word ingestel deur die ATM – wat net ’n splinterfaksie van die ANC is – ’n projek van die Zuma-Magashule-faksie in die ANC.

“Die DA is voorts van mening hierdie is ’n massiewe aanslag op Ramaphosa deur drukgroepe in die ANC wat die ATM wil gebruik om van Ramaphosa ontslae te raak,” het Mazzone bygevoeg.

“Die president moet nou wakker skrik oor die land se werklikhede, sy hervormingsagenda na die parlement bring en dit aanvaar kry. Die teenstanders van ekonomiese groei trek op teen hom en hy gaan dringend moet optree as hy wil oorleef,” het Mazzone voortgegaan.

“Ons daag hom uit om sterk standpunt in te neem teen die vyande van ekonomiese groei in sy party voordat hulle enige kans op ekonomiese groei nek omdraai,” het Mazzone afgesluit.

Bronne in die EFF het aan Maroela Media laat blyk die party kan heel moontlik die ATM-mosie steun.

Die EFF het 44 LP’s.

Die IVP se hoofsweep, Narend Singh, het by navraag aan Maroela Media gesê sy koukus sal nog besluit waarheen die party se 13 stemme gaan.

Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het by navraag aan Maroela Media gesê sy party sal wag om die presiese bewoording van die mosie te bekyk.

“Ek beskou egter as ’n reël sulke mosies as ’n futiele oefening en mens moet mooi kyk waar so ’n mosie vandaan kom,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Rentia ·

Die DA steun dit nie? Het ek nou mal geword?
Ekonomie is laer as rommelstatus, werkloosheid is die hoogste ooit, skuld is op rekord vlakke, jy skrik nie eers meer vir skote elke aand in die dorp nie, ens ens ens…. Maar die DA steun die ANC genoeg om so te wil aanhou?

Chris dupreez ·

Wat dink jy sal gebeur as die DA dit steun en Rhamaposa word uitgestem as president, dan is al die zuma kriminele weer terug, , hoe kan jy dit nie verstaan nie. Dit is n komplot van die ATM party en Zuma en Magashule om ontslae te raak van Rhamaphosa

Werner ·

Die DA weet nie meer of hulle kom of gaan nie.Ou CR doen nog minder as Zuma of hy nou in of uit is jy gaan nie n verskil sien nie.

Die Wolf ·

Wil jy graag Mabuza sien as President? Groter probleme vir blankes.

Piet ·

Die ANC sal steeds aan bewind mees met ‘n swakker president.

Werner ·

Ek dink ons sal nou sien wie regeer die land en moenie verbaas wees as dit nie ou Cyril is nie

Persheks Adri ·

Hiér kom die blinde sambok nou! Geweet Ace gaan êrens uit kruip en BAIE nonsens maak! Dis juis hy wat ons NIE soek NIE!

JohanR ·

Hoekom vra julle nie vir die mense van Suid Afrika die vraag in n referendum nie? Vra vir ‘n mosie van wantroue in Cyril Ramaphosa en die ANC. Dit sal ‘n interessant referendum wees. In so ’n geval sal adj.pres. David Mabuza die gunsteling wees om die land te lei-nog ‘n ANC skelm en dief!

Mariana ·

Maak nie saak hoe mens dit bedink nie, daar is geen goeie leiers in die ANC nie

Genis ·

Die ANC en al sy kaders, Zuma faksie en Ramaposa faksie = 2 x Corruption. Jammer die hele ANC kan nie uit hulle stoele gelig word nie..

Blomme ·

Hul sal nie uit die stoele gelig kan word want hul kiesers is net so onnosel soos die leiers. Hul word omgekoop met leë beloftes en kospakkies en verder verdwyn die belastinggelde in die sakke vd korrupte skelms.. Tot vlg verkiesing.

Chris dupreez ·

Magashule gaan alles in sy vermoë doen om ontslae te raak van Rhamaposa. Rhamaposa wil ontslae raak van die kriminele in die anc , maar hy moet dit baie versigtig doen want daar is van hulle op die NUK van die anc en hulle sal hom herroep en dan is die kriminele weer in beheer van die regering

Genis ·

Die problem met Ramposa is dat hy n solialis en n kommunis is… Hy kyk net na homslef..

Pieter ·

Welkom in zimbabwe het nog altyd gese hoekom sal dit hier anders gaan. Dit gaan orals in afrika so maar nog steeds word daar vir die sirkus en sy narre gestem.

gatgogga ·

Wel, CR was te lafhartig om op te tree teen die ANC skelms, so nou moet hy maar sweet.
Hy weet nie hoe om die ekonomie te red nie, hy weet nie hoe om sy eie party te red nie, en hy verdeel die hele land volgens ras. So hy het geen positiewe bydrae nie.
Dit is net dat daar geen aanvaarbare alternatief is nie.

Sarel ·

Mense word wakker Magshule is Anti Rgamaposa maar het nog altyd gekry wst hy wou hè. Hierdie man is gevaarlik en hy is besig met magsopbou. Hy sal met niks anders tevrede wees nie. Julle gedink Zuma was probleem?

Pierre ·

Hierdie is die finale aanslag om van CR ontslae te raak daar is nie genoeg steun uit provinsies nie, so n mosie van wantroue is enigste poging op die stadium vir desperate Zuma en Magashule om vervolging te probeer staak, as CR uit is, sal Dlamini amptelik instaan onder die disaster management verlenging tot son stadium dat `n opvolger aangewuis kan word wat of Mabuza of Magashule sal wees.

Kanjynoumeer ·

Hoe vreesaanjaend om te dink dat massa mense stemme die ANC en Cyril aan bewind gesit het en nie intellek nie!
Geen wonder alles wat die ANC aanpak of bestuur n volslae mislukking is nie!

Jannie van Niekerk ·

Nouja, die ATM is eintlik die misdadiger faksie van die ANC. As daar nog ander misdadigers in die ANC banke sit wat saam met die ATM stem, sal Pres Ramaphosa nou hulle ware kleure sien. As ek pres was het ek spoedig ontslae geraak /an al die Zuma, Magashule ondertseuners ongeag die gevolge.

Derek ·

Die magstryd word nou al feller, die voorspelde faksie gevegte woed nou. Die is goed dat dit gebeur, n leier moet nie dink hy is onfeilbaar nie, dit is nog steeds die ANC. Die ATM is n party wie se wortels nog kom van hul voorvader Abraham af, hulle leef nog in die verlede, daarom sal die EFF hulle ondersteun en natuurlik Ace se faksie.

Chris ·

Wat van ‘n wantrouemosie in die regering en diegene wat bygedra het en steeds bydra, tot die vooruitstrewende mislukte nuwe Suid Afrika ?

pompies ·

CR word deur die NUK gese wat om te doen en wat om nie te doen nie. Die anc word deur die NUK bestuur en so ook die President en Onder President hulle kan nie maak en breek soos hulle wil nie. Maar dat ace gevaarlik is, is n feit want CR sal nou sien wie vir wie steun as die stemming nie in geheim gehou word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.