Mosie van wantroue in Rand West City-burgemeester

Argieffoto (Foto: dechatorn, Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie (DA) se koukus in die Rand West City- plaaslike munisipaliteit het dié week ʼn mosie van wantroue teen Mzi Khumalo, burgemeester van die munisipaliteit, ingestel weens die voortgesette betogings oor dienslewering in Mohlakeng naby Randfontein.

Evert du Plessis, die DA se Gauteng-Wes-streeksvoorsitter, het gesê inwoners is ongelukkig met swak dienslewering, behuising, onregverdige toekenning van tenders, duur lewenskoste en die onlangse aanstelling van die ANC-lede wat nou in die kantoor van die speaker gaan werk.

Du Plessis sê sommige van dié ANC-aanstellings is voormalige lede van die raad, terwyl die ander hulle as politieke “afgevaardigdes” van die ANC beskou het.

“Die mosie, wat Juniemaand bespreek gaan word, is ingestel omdat inwoners van die nedersetting deurlopend pamflette [onder mekaar] sirkuleer wat eis dat die nedersetting heeltemal tot stilstand gebring word. Plaaslike ondernemings se deure is reeds vir ʼn tweede dag toe en skole in die omgewing is ook gesluit. Inwoners is duidelik oor hul eise, hulle wil beter dienste van die munisipaliteit hê,” het hy gesê.

Du Plessis sê aangrensende inwoners van Westonaria én die inwoners van Mohlakeng wil wegbreek van die Rand West City- plaaslike munisipaliteit en weer aansluit by die Westonaria-munisipaliteit omdat hulle nié die dienslewering gaan kry waarop hulle geregtig is nie.

Die munisipale afbakeningsraad het die Randfontein- en Westonaria-munisipaliteit in Augustus 2016 laat saamsmelt om die Rand West City- plaaslike munisipaliteit te vorm. Dit was gedoen om die groot getal munisipaliteite in die land te verminder van 283 na 250 en sodoende miljoene rande jaarliks te spaar.

“Dié samesmelting het egter tot ʼn groot finansiële terugslag en swak dienslewering vir duisende inwoners gelei,” sê Du Plessis.

“Die ANC het versuim om die uitwerking van ʼn gebrek aan dienslewering vir die armes ernstig op te neem. Burgemeester Khumalo moet aanspreeklik gehou word omdat hy misluk het in sy plig om aan ons mense ʼn diens te lewer. Die DA sal aan die voorpunt van die stryd om beter dienslewering bly. Wanneer dit kom by dienslewering, is die DA die beste party omdat ons verbind is tot die verandering van lewens en hoop vir ons mense waar ons ook al regeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SUSAN ·

Dit is erg ons het geen water in Krugersdoep en as ons water het is die drukking so sleg jy moet ure wag om net n bad te tap om te kan bad . te danke aan die ANC hulle dink net aan hulle self maar ons moet ons munisipalteit rekeninge betaal maar kry geen dienste

Hendrik ·

Die NP se ’94 beloftes aan die wit kiesers was : Eie skole, eie woonbuurte, eie …. Nou moet jy voorsiening maak vir eie water, eie krag en die volgende stap is eie woonbuurte. Dit is baie werk en beslis volhoubaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.