Mosie van wantroue: Só sal die geheime stemmery plaasvind

sona2016 baleka mbete

Baleka Mbete, speaker van die parlement tydens 2016 se staatsrede. (Skermskoot uit die regstreekse uitsending.)

Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering (NV), het Maandag aangekondig dat ʼn geheime stemming toegelaat sal word in Dinsdag se mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, verduidelik hoe die prosedures vir die geheime stemmery Dinsdagmiddag sal verloop:

Voorbereiding vir die stemmery

Die lede van die NV sal die geleentheid gegun word om die mosie van wantroue te debatteer. Daarna sal die vergadering verdaag word sodat die lokaal vir die geheime stemmery voorberei kan word.

ʼn Klok sal gelui word om die lede terug te roep vir die stemmery en die deure van die NV sal tydens die stemmery gesluit wees.

Stembriewe en -busse

LP’s sal ʼn stembrief kry waarop die vraag waaroor gestem word gedruk is, asook die opsies ja, nee of geen stem.

Daar sal twee stembusse vir die stembriewe wees en vier stemlokale waarvan een rolstoeltoeganklik sal wees.

Die speaker sal daarop aandring dat die leë bokse aan die lede gewys word waarna dit voor hulle met kabels verseël sal word.

Proses van die stemmery

ʼn Kontrolelys met die lede se name sal vooraf voorberei word. Die lede sal in alfabetiese volgorde geroep word om stembriewe van die stemtafel te kom afhaal. Soos wat elke lid sy of haar stembrief neem sal die naam van die lid op die kontrolelys afgemerk word.

Die lede sal na een van die stemlokale gaan en met ʼn duidelike kruis sy of haar opsie op die stembrief merk.

Elke teenwoordige lid moet stem en mag slegs een keer stem.

Sodra alle lede teenwoordig gestem het, sal die speaker aankondig dat die stembusse gesluit en verseël word. Die opening van die deksel van die stembus, waardeur die stembriewe gegooi is, sal dan ook verseël word.

Die speaker sal die sweep of ʼn verteenwoordiger van elke party die geleentheid gee om ʼn getuie te wees tydens die tellery van die stembriewe.

Die vergadering sal verdaag word sodat die stembriewe getel kan word.

Die telkamer

Die kamer waar die stemme getel word sal deur die parlementêre beskermingsdienste gemonitor word, terwyl die stemme onder die toesig van die speaker en swepe of ʼn verteenwoordiger van elke party sal plaasvind.

Elke stembrief sal in die teenwoordigheid van die speaker, swepe en partyverteenwoordigers oopgemaak, gesorteer, getel en geoudit word.

Die sekretaris van die NV sal die uitslag afteken voordat dit aan die speaker oorhandig sal word. Niemand anders as die speaker mag die resultate bekend maak voordat die speaker die uitslag van die stemmery aan die vergadering voorgelê het nie.

Daar sal nie enige elektroniese toestelle binne die telkamer toegelaat word nie.

Ongeldige stembriewe

ʼn Stembrief sal ongeldig verklaar word as dit nie gestempel is nie, as dit ongemerk is of as ʼn lid sy of haar naam onderteken het of meer as een opsie met ʼn kruis op die stembrief gemerk het.

Aankondiging van die resultate

ʼn Klok sal gelui word om die lede te laat weet dat sake weer hervat word waarna die speaker die uitslae aan die NV bekend sal maak.

Hoe word die stemuitslae gestoor?

Die stembriewe sal in ʼn argiefkas gestoor word wat met kabelbande verseël en in ʼn kluis gestoor is. Die argiefkas mag slegs op die bevel van die speaker of ʼn hof oopgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

AL ·

Ek vrees nie nie uitkoms nie. Laat God se wil geskied – aangesien Hy die groter prent sien.
Ons is soos sandkorrels op aarde, fyn en vergaanbaar.

Corrie A2JESUS ·

Ek stem 100% saam met jou Al. God is in beheer al lyk dit nie so nie.
Dankie Here dat U Suid-Afrika dra. Amen

dovaz ·

Klink taamlik organised. Hoop it bly so. Mag God se wil geskied!

Rina Kotze ·

Klink baie goed, vertrou dit sal in die praktyk ook so werk!
Mag lede vd algemene vergadering met hul gewetes stem, mag God hulle help om daarmee te stem!

Leeutjie ·

Daar is groot krag in gebed!!! Bid en vir julle sal gegee word!!! Dis net HY wat ons kan red!

jd ·

Let’s pray like we’ve never prayed before South Africa!!! Thank you Lord for an opportunity for New Beginnings! 8-8-8 the 8th of the 8th month and the 8th motion of no confidence. The Biblical meaning of the number 8 is…..”New Beginnings ”  Isaiah 43:18-9

First Lady ST ·

Net die HERE kan JZ uit die Parlement verwyder – en Hy sal – wanneer die tyd reg is

Frans C ·

Die Speaker hou vol dat om Pres.Zuma dit 201 stemme moet wees,baseer op die aantal lede
van 400.Daar is 5 ANC setels vakant en volgens die konstitusie is die meerderheid 50%
van die lede wat daar was toe die mosie ingedien is.Dit is dus 198 plus 1 (199) en nie 201
nie.
Wonder of sy nog of ‘n meerderheid van 201 sal aandring as die helfte van die 400 setels vakant is.Sy het die saak vir regsadvies verwys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.