Mosie van wantroue teen De Lille geweier

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad (Foto: Patricia de Lille / Facebook)

Dirk Smit, speaker van die Kaapstad-metro, het Donderdag gereageer op ʼn kennisgewing van ʼn mosie vir die verwydering van én ’n mosie van wantroue teen Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad.

Dié mosies is deur Nolutando Makasi, hoofsweep van die ANC in die wetgewer, gebring.

Smit het egter gesê die mosie is foutief omdat dit nie aan alle reëls voldoen nie. Hy het gesê die kennisgewing van die mosie moet op skrif in die vorm van ʼn konsepverslag wees wat deur die lid wat dit indien sowel as ʼn sekondant onderteken moet word.

“Dit wat ons ontvang het, bevat net een handtekening van ʼn raadslid, Petronella Heynes, en dit is namens die hoofsweep geteken. Dit is dus nie duidelik wie die mosie indien en wie die sekondant is nie. In elk geval is daar steeds een handtekening kort.”

Die kennisgewing voldoen volgens Smit ook nie aan ʼn maatreël wat dit duidelik stel dat die mosie nie op ʼn agenda kan verskyn indien dit nie ten minste tien werksdae voor ʼn vergadering ontvang word nie.

“Die kennisgewing voldoen dus nie aan die korrekte tydsraamwerk om op ʼn agenda geplaas te word vir ʼn vergadering wat vir 5 Desember geskeduleer is soos dit voorgestel word op die meegaande e-pos van raadslid Heynes nie,” het Smit gesê.

“Ek kan daarom nie reëlings tref vir die mosie om op die agenda geplaas te word vir 5 Desember soos die ANC versoek het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Basjan ·

Die ANC probeer allerhande jakkalsdraaie gooi om net die aandag van hulself af te trek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.