Mosie van wantroue teen ganse kabinet

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Donderdagaand se staatsrede. Die DA het ‘n mosie teen die hele kabinet – wat Ramaphosa uitsluit – ingedien. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die DA het ʼn mosie van wantroue teen die hele kabinet ingedien weens die “verstommende getal regeringsmislukkings, optrede van beweerde korrupsie en wanbestuur sedert Mei 2019”.

Die mosie, ingedien deur DA-leier John Steenhuisen, lui dat die mislukking gelei het tot die ineenstorting van dienslewering in sommige staatsdepartemente, terwyl ander mislukkings gelei het tot algehele pligsversuim deur sommige lede van die uitvoerende gesag.

Die DA sê dat hy “geen vertroue in die huidige kabinet het nie en doen ʼn beroep op die president van die republiek… om ʼn hersamestelling van die kabinet te doen”.

Die mosie is egter nie teen die president self ingedien nie.

Steenhuisen het tydens die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede, wat hy Donderdagaand gelewer het, gesê ten spyte van die konsolidasie van verskeie departemente ʼn paar jaar gelede, is Ramaphosa steeds die hoof van een van die grootste kabinette ter wêreld.

“ʼn Enorme werk-vir-kaders-skema waar niemand te korrup, te lui, of te nutteloos is om een van die luukse werksgeleenthede te bekom nie.”

Steenhuisen meen bykans niemand in die kabinet sou in die private sektor geskik wees om in diens geneem te word nie en “sommige van hulle hoort agter tralies”.

“Pleks daarvan dat jy jou kabinet skoonmaak, skuif jy bloot die onbekwames en die korruptes weer en weer tot elke enkele departement die smerige vingerafdrukke van mislukking het.”

Volgens Steenhuisen weet Ramaphosa dat sy kabinet nie vertrou kan word om dinge gedoen te kry nie en dat die president dit erken deur sy vestiging van ʼn sogenaamde “parallelle staat in jou eie kantoor”.

Die DA meen in ʼn funksionele demokrasie sou die meeste kabinetslede lankal die trekpas gekry het.

Steenhuisen het onder meer in sy toespraak verwys na ʼn video van Ramaphosa waarin hy klaarblyklik sê dat hy eerder as ʼn swak president gesien wil word as om die ANC te verdeel.

“Met ander woorde, jy sien dit dus as jou werk om hierdie hele spul boewe en parasiete bymekaar te hou, selfs al beteken dit die vernietiging van jou land.”

Hy het verwys na Bheki Cele, minister van polisie, wat steeds in sy pos is selfs ná die polisie se verstommende versuim om mense en eiendom tydens verlede jaar se grootskaalse oproer te beskerm. Dieselfde geld vir Ayanda Dlodlo, destyds minister van staatsveiligheid en nou van staatsdiens en administrasie, wat ook steeds in haar pos is, terwyl die destydse minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, deesdae die speaker van die parlement is.

Ook ministers Lindiwe Zulu, Gwede Mantashe, Patricia de Lille, Angie Motshekga, Lindiwe Zulu, Stella Ndabeni-Abrahams, Ebrahim Patel en Fikile Mbalula is skerp gekritiseer.

“As dit nie moontlik is vir jou om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou en steeds as president te oorleef nie, sal ons die las van jou afneem en die huis toelaat om hulle namens jou af te dank,” het Steenhuisen aan die president gesê.

Volgens die DA het Ramaphosa nog tyd om iets aan sy nalatenskap te doen, maar dat dit dringende optrede gaan vereis.

“Jy praat, jaar ná jaar en staatsrede ná staatsrede, terwyl die DA dinge gedoen kry. Dit kon egter so anders gewees het. Toe jy sowat vier jaar gelede jou presidentskap opgeneem het, het jy al die welwillendheid gekry wat jy nodig gehad om om jou land terug op sy voete te kry.

“Al wat jy moes doen was om sommige van die beloftes in jou eerste staatsrede gestand te doen. Net ʼn bietjie vordering, dan nog vordering die volgende jaar en die jaar daarna. Die werklikheid is dat weinig gebeur het.”

Steenhuisen sê Ramaphosa moet nou ophou praat en dadelik daad by die woord begin voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

piet ·

Ha,ha. Sal graag Steenhuisen se toespraak wil sien, seker iewers op youtube wees.

DEON ·

Ramaphoza sal hulle nie afdank nie, hulle sal dan mos met die hele sak patats uitkom en dan kom die president se streke ook uit, waarom dink julle Zuma kom met alles weg, as hy begin praat sit ons hele land sonder enige leiers in die regering, sowel as al die starts beheerde organisation’s en verseker al die munisipaliteite waar die ANC in beheer is.

Jacques ·

Ai, die ou Ian Smith van die DA wil maar net nie die boodskap kry dat die Mugabe’s van die ANC hulle min steur aan sy gekerm nie.

Nie meer lank nie, dan gooi hulle jou ook uit die parlement soos bogenoemde.

Cherokee ·

Baie netjies gesê deur Steenhuisen, maar dit is moeilik om te probeer begryp waarom hy Ramapoker vryskeld.

Jr ·

Steenhuizen jy kan net sowel ‘n wind los in a Revlon parfuum fabriek, niemand gaan dit ryk nie. En so is dit met hierdie swak “president”

JohanR ·

Ramaphosa het die hele spul vrot eiers nodig om hom vir ‘n tweede termyn in te stem.

Corne123 ·

Ag asb tog hoe dink hulle sal dit slaag niemand sal hulleself fire nie en dan nog boonop ook n oop chekboek toemaak nie

Pieter ·

Ek sal eerder se die land het sy agterent begin sien in 1994. Na 28 jaar het die anc dit net reg gekry om ons mooi land af te breek tot op die grond.

Elméne ·

Ek stem volkome met jou saam!! En die kamptige opposisie party kan ook net blah-blah!!

annie ·

Ja, a, a… Maar sien ons prez neem nie self enige besluite nie… Dit kom vanuit ons deep state. Hy was self verras toe hy die president geword het. En hy moet nou weer perform as hy wil aanbly in 2023. En wie of wat is hierdie wesens wat so ‘n magtige krag uitoefen? Einstein se formule, E = mc° (°=2) sal lig werp.

marius ·

Kabinet . Plek waar die duur glase en die voggies staan . Baie belangrik ….

Jack ·

Iets doen aan die gemors is beter as om net te ramaphosa en niks te doen nie. Die wes kaap is die bewys van goeie bestuur en niemand kan daarmee verskil nie. Dat dit moeilik is om teen n bende kriminele te vorder is so maar oorgee mag ons vir m tweede maal nie.

Waarnemer ·

En gaan die mosie die hele kabinet laat bedank?I dont think so!!!

Andrew ·

Dis die uiteinde van die liberalisme en multikulturalisme, met sy volgelinge altyd so verbaas en histeries omdat ander nie dieselfde waardeklas koester nie.

piet ·

Steenhuisen se toespraak: https://m.youtube.com/watch?v=A07KNV851qE. Moet se hy is ‘n goeie spreker. Dit val egter op dowe ore, gaan by die een oor in en die ander uit. Die ANC is te vasgevang in sy eie ideologie uitsluitlik gegrond op die verlede om ‘n nuwe rigting in te slaan vir die toekoms. Die land sal nooit regkom onder ANC bewind nie. Hulle sal uitgestem moet word en dit gaan nie oornag gebeur nie.

Yvonne ·

Mnr Steenhuizen, jou wonderlike visie en bedoelings val op dowe ore….hulle voel niks vir die land nie…skaamtelose vergrypers

Andries ·

Mnr. Steenhuisen. Julle benader dit van die verkeerde hoek af. Bied eerder hulp aan. Ai.

Heinrich ·

Stem saam, die hele lot is nutteloos en korrup. Stem nie saam dat hy die prez uitgesluit het nie; hy stel lankal die belange van die ANC voor dié van die land en is verantwoordelik vir die kaderontplooing. Kanse dat hier iets van gaan kom is egter nul.

Jacobus ·

In die hoofartikel van die destydse Transvaler van 1992, het die skrywer ons gewaarsku hoe die land gaan lyk as die Nee-stem sou wen. “Werkloosheid en hongersnood sal almal tref. Selfs groot maatsksppye sal talle werkers ontslaan, wat hulle in baie gevalle tot misdadigheid sal wend om aan die lewe te bly.” En verder; “Die regering sal nie genoeg geld vir skole, hospitale, paaie en sy amptenare hê nie.”
Dis presies hoe dit nou lyk, maar dis nie waarvoor hulle Ja gestem het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.