Mosie van wantroue teen Magashule beplan

Ace Magashule. Foto: GCIS/Flickr

Die DA het Sondag gesê die party sal ʼn mosie van wantroue teen Ace Magashule, premier van die Vrystaat asook die nuutverkose sekretaris-generaal van die ANC, instel voor nóg mense “slagoffers van sy duistere handelinge” word.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Sondag tydens ʼn besoek aan Botshabelo naby Bloemfontein gesê Magashule en sy “korrupte vriende het meer as R200 miljoen van ʼn groep aspirant- swart boere gesteel”.

“Verlede jaar het ek die Estine-melkplaas in Vrede besoek waar ʼn regeringsprojek wat daarop gemik was om plaaslike inwoners te bemagtig en die provinsiale landbou ʼn hupstoot te gee deur die vestiging van ʼn grootskaal-melkplaas in 2013, deur die Vrystaatse regering op die been gebring is.

“Die gemeenskapsgebaseerde projek was gerig op sowat 100 plaaslike begunstigdes. Dit was ʼn gesamentlike projek tussen die Vrystaatse departement van landbou en Estine, ʼn maatskappy wat deur die Guptas beheer word. Dit is toe dat dit duidelik geword het die projek gaan allermins oor die gemeenskap van Vrede,” het Maimane gesê.

Maimane meen dié stap was ʼn onderduimse gekonkel deur die ANC se verteenwoordigers wat Magashule en Mosebenzi Zwane, die minister van minerale hulpbronne, ingesluit het om openbare geld te steel om vir ʼn Gupta-troue in Sun City te kon betaal.

Maimane het gesê hy het twee keer met ʼn groep van die beoogde begunstigdes byeengekom, een keer in Vrede en een keer in die openbare beskermer se kantoor in Pretoria, waar daar glo vergader is om vas te stel waar die OB se verslag oor die skandaal is. Volgens Maimane het die DA reeds in 2013 ʼn klagte by die OB ingedien.

“Sommige boere het hul vee verkoop in afwagting op hul deelname aan die projek. Hulle het verduidelik van hul pyn en angstigheid omdat hulle so lank gewag het vir ʼn belofte wat duidelik nooit nagekom sou word nie. Ongelukkig was dit ʼn leuen van die begin af.”

Maimane meen Magashule het nie net van die skandaal geweet nie, maar was ook aktief betrokke by die projek. “Hy kan nie aanhou om in beheer te wees van ʼn provinsie as ons weet hy werk agter die rûe van mense in die Vrystaat om hom en sy vriende te verryk nie.”

Die DA het die Valke se besluit om beheer van die plaas oor te neem en die kantore van verskeie Vrystaatse regeringsbeamptes te deursoek verwelkom.

“Die Valke se werk moet voortgaan en die skuldiges moet agter tralies beland. Maar vir eers moet ons vir Magashule verwyder voor nóg mense van die Vrystaat slagoffers van sy duistere handelinge raak.”

Volgens hom het die DA die wiele aan die rol gesit vir die proses om die mosie van wantroue teen Magashule in die Vrystaatse wetgewer in te stel. Die DA-koukus sal Dinsdag vergader en die besonderhede finaliseer voor hulle die speaker van die wetgewer daarvan in kennis stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

zoom zoom ·

DA het al hierdie mosie van wantroue ding al so holrig gery. Plaas sort hulle hulself uit.

Willie ·

Die ANC moet se hierdie is nuwe nuus, hulle was bewus, en is bewus van al die plase wat so tengronde gaan, en boonop die diere mishandeling!

Jacques Venter ·

Zoom zoom
Watter party steun jy? En wat doen hulle aan die saak?
Vergewe my, my voorbarigheid. Maar ek vermoed jy gaan my nie antwoord nie

Antjie ·

Ag, pu-liees! Dink julle wraggies om die terme holrug te ry gaan julle vorentoe vat? Vra eerder die NPA vir spoedige optrede teen selfs voorlopige bevindinge. Kla hom siviel aan vir die geld wat vermis word, sodat ons water projekte gou van die grond af kan kom en die waarheid vinniger uitkom. Help verbeter kapasiteit om spoed op te tel. Help joernaliste die geheime beveg met akkuraatheid tov detail en houdings. Julle bou jul huise op sand en nie vaste rots nie! G’n wonder die windjie waai julle gereeld om nie! Julle gaan stemme verloor weens jul eie slap houding!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.