Mosie van wantroue teen Nelson Mandelabaai se adjunkburgemeester

Mongameli Bobani, adjunkburgemeester van Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, maak twee bedrogsake aanhangig (Foto: ANA)

ʼn Mosie van wantroue wat teen die adjunkburgemeester van Nelson Mandelabaai, Mongameli Bobani, ingestel is, sal volgende week aangehoor word.

Spanning tussen Bobani, lid van die United Democratic Movement (UDM), en Atholl Trollip, die burgemeester van Nelson Mandelabaai, is steeds aan die toeneem.

Trollip, van die Demokratiese Alliansie (DA), het Donderdag aan die media gesê hy het “alles in sy vermoë” gedoen om dié spanning tussen hom en Bobani op te los, maar kon nie daarin slaag nie.

“Daar was nog geen vordering nie. Ek het ʼn persoonlike vergadering met Bantu Holomisa [UDM-leier] gehou, en hy het voorgeneem om op 13 Julie na Nelson Mandelabaai te kom om die kwessie te probeer oplos. Nou word daar ʼn mosie van wantroue teen die adjunkburgemeester volgende week aangehoor,” het hy gesê.

Die koalisieregering van Nelson Mandelabaai het byna ineengestort omdat dié twee leiers nie kan saamstem oor bestuurskwessies en personeelaangeleenthede in die Oos-Kaapse metro nie. Dié spanning het net vererger toe Trollip vroeër vir Bobani as burgemeesterskomiteelid vir openbare gesondheid afgedank het. Bobani het egter aangebly as die adjunkburgemeester omdat hy deur die raad verkies is.

Trollip meen egter daar is geen waarborg dat hy as adjunkburgemeester gaan aanbly ná die mosie van wantroue nie.

“Wat tans in die metro gebeur, is onaanvaarbaar. Wat hy [Bobani] doen, hou ons terug, en ons kon beter regeer het. Ons het sewe maande lank probeer om die kwessie op te klaar, en sewe maande is lank genoeg.”

Die DA, onder leiding van Trollip, die UDM, die African Christian Democratic Party (ACDP) en Congress of the People (Cope) het ʼn koalisieregering in die metro gevorm nadat hulle die ANC in die plaaslike verkiesings gewen het.

Van die 120 raadsetels hou die koalisie 61 waarvan 57 vir die DA, twee vir die UDM en een elk vir ACDP en Cope. Die res van die 59 setels behoort aan die ANC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bas den Bakker uit de Klundert.....Nethl. ·

Zeven maanden geprobeerd? blijkbaar te kort. Bij de menselijk vrucht duurt het negen maanden en dan komen pas de weeën….. en daarna kan de geboorte beginnen..Blijf proberen op een vriendelijke manier en doe BEIDEN de boosheid van je. Boosheid lijdt nooit en nooit tot enig resultaat…… So what do you what and what do you choice REALLY? Build or Break!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.