Mosie van wantroue teen Ramaphosa ingestel

Pres. Ramaphosa by ‘n byeenkoms van die Afrika Unie. (Foto: GCIS)

ʼn Klein opposisieparty genaamd die African Transformation Movement (ATM), het dié week ʼn mosie van wantroue teen pres. Cyril Ramaphosa ingedien. Dié mosie gaan egter nie noodwendig die steun van ander opposisiepartye geniet nie.

Die ATM het twee setels in die Nasionale Vergadering. Die mosie lys ’n verskeidenheid redes waarom die parlement Ramaphosa, wat onlangs as tydelike hoof van die Afrika Unie aangewys is, uit sy pos moet verwyder.

Onder meer wys die ATM se mosie uit dat die ekonomiese groeikoers van 3% wat Ramaphosa in die vooruitsig gestel het, hoegenaamd nie besig is om te gebeur nie. Voorts meen die ATM Ramaphosa het die land mislei toe hy in Desember gesê het daar sal nie weer beurtkrag wees voor 13 Januarie nie, en die ATM meen die skenking wat Ramaphosa se ANC-leiersveldtog van die omstrede sakeman wyle Gavin Watson ontvang het, slaag nie die etiese toets nie.

’n Ander rede waarom die ATM meen Ramaphosa moet die pad vat, is omdat hy vir die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, in die kabinet hou terwyl die staatsbestuurde ondernemings rampspoedig vaar.

Die leier van die ATM, Vuyolwethu Zungula, het die mosie ingedien by die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, wat dit tans oorweeg. Sy moet onder meer verseker dat die mosie aan alle regulasies van die parlement voldoen.

Die ATM is ’n party wie se steunbasis in die noordelike Transkei en die landelike suide van KwaZulu-Natal gesetel is, en hul kiesers is veral lidmate van spesifieke kerke in die messiaanse Afrika-tradisie.

Sedert die stigting van die ATM was daar deurgaans gerugte dat hulle eintlik ’n tipe Trojaanse perd vir die belange van oudpres. Jacob Zuma is, en dat die sekretaris-generaal van die ANC, die Zuma-lojalis Ace Magashule, op ’n manier by die finansiering van die ATM betrokke is of was.

Sowel Magashule as die ATM ontken dit ten sterkste.

Indien die mosie dien, sal dit ’n geheime stemming wees, en die druk sal op die ANC wees om te verseker dat al 230 sy LP’s teen die mosie stem. Die mosie kan dus die gevolg hê dat dit druk op die Ramaphosa-groepering plaas, maar ook die Zuma-Magashule-groepering kan sleg lyk as net ’n paar ANC-LP’s teen Ramaphosa stem.

Dit lyk nie in hierdie stadium asof die ATM met ander opposisiepartye oorleg gepleeg het voor hulle die mosie ingestel het nie. Nog geen party het hul steun vir die mosie laat blyk nie. Die ATM het wel die mosie aan ander partye gestuur, maar nie al die partye het al kans gehad om dit te bespreek nie.

Die DA se hoofsweep, Natasha Mazzone, het by navraag gesê haar party, wat 84 setels het, het die mosie ontvang, maar nog nie behoorlik bestudeer nie. Sy het gesê sommige aspekte van die mosie, soos om te beweer Ramaphosa het die land mislei oor beurtkrag, lyk vir haar persoonlik ’n bietjie dik vir ’n daalder. Die besluit om die mosie te steun al dan nie, sal wel op die DA se koukusvergadering bespreek word.

Die EFF, wat 44 LP’s het, het in hierdie stadium nog geen aanduiding gegee van hoe die wind waai nie, maar die inhoud van die mosie stem baie ooreen met hoe hulle oor Ramaphosa voel. Die verwagting is dat daar by ’n EFF-nuuskonferensie Sondagmiddag groter duidelikheid oor die party in rooi se posisie kan kom.

Narend Singh, hoofsweep van die Inkatha Vryheidsparty, wat 13 setels het, het aan Maroela Media gesê die kwessie sal Maandag deur die party se topleierskap bespreek word.

Die hoofsweep van die VF Plus, dr. Corné Mulder, het by navraag gesê hy het die mosie nog nie na behore bestudeer nie en dit sal eers aan sy kollegas voorgelê voordat hy daarop kommentaar sal lewer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Oujongvrou ·

Kan daar nie n mosie wees waar landsburgers besluut hulle het genoeg gehad van die speletjie wat hulle noem Parlement, parlement nie. Wens ek kan net my oe toemaak en tjoef eks in New Zeeland.

Magda ·

JA ASB KAN ONS PUBLIEK N MOSIE VAN WANTROUE TEEN EFF / ANC INSTEL AS POLITIEKE PARTYE WAT NET BAKLEI VIR N STOEL EN DAN WORD DAAR GEEN WERK GEDOEN VIR ENIGE PUBLIEK WAT HULLE IN DAAI STEOL IN DIE EERSTE PLEK GESIT HET NIE . HULLE BAKLEI NET OM NOG MEER WERK VIR DIE ———— (O JA DIT SI HOEKOM DIE ZONDO KOMISSIE TE GEE) HULLE MOET VERWYDER WORD ASAP.

Kirst ·

Dis nie moeilik om NZ toe te gaan nie. Solank jou beroep op hulle skaarsheidslys is kan jy tot op 55 ‘n permit kry wat jou toelaat om daar te bly en werk. Met gemiddelde huispryse van R5,7 miljoen in een van die mees sekulere lande in die wereld stel ek egter glad nie belang nie.
My swaer en sy gesin het Desember daarheen verhuis. Hulle betaal R6 400 per week (nie maand nie) huur, ‘n avokado kos R40 en ‘n bottel brandewyn R350 (net ter illustrasie) hulle kinders se skoolhoof het ‘n neusring en is oortrek met tattoeermerke en die kinders noem die onderwysers op hulle name. Nee dankie.

SomeOne ·

cr “y for me south africa” moes al lankal die trekpas gekry het

Anoniem ·

Ek stem saam. Ramaphosa wil net briefies skryf en storietjies praat. Hulle moet die president elke twee jaarvervang tot ons iemand het wat weet wat hy doen.

Stof ·

Politici, sowel as babadoeke, moet beide gereeld
verwissel word, om dieselfde rede…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.