Mosie van wantroue teen Sasolburg-burgemeester

Lindiwe Shongwe, burgemeester van Sasolburg in die Vrystaat (Foto: @GardeeGodrich)

Opposisiepartye in die Metsimaholo-munisipaliteit (Sasolburg) in die Vrystaat het ʼn mosie van wantroue ingedien teen burgemeester Lindiwe Shongwe.

Mbahare Kekana, leier van die Forum 4 Service Delivery (F4SD) het Woensdag gesê hulle wil hê die uitslag van die mosie moet met ʼn geheime stemmery bepaal word. “Partylede het aangedui hulle sal die mosie ondersteun as die stemme anoniem kan bly,” het Kekana verduidelik. “Om seker te maak die mosie is suksesvol, moet ons nog met ander partye vergader om seker te maak hulle stem ook ten gunste van die mosie. Ons het die SAKP gewaarsku dat drie jaar te lank is om swak dienslewering te duld.”

Die mosie, gedateer 21 Augustus, is deur raadslid Victor Nyembe van Metsimaholo Community Association (MCA) ingedien. Die opposisie dui sewe redes aan vir die mosie teen die burgemeester, onder meer dat die burgemeester geen beheer het oor haar burgemeesterskomitee nie en versuim om haar uitvoerende komitee aanspreeklik te hou.

Die mosie is gesekondeer deur raadslid Dineo Nyaku van F4SD en raadslid Jack Malindi van die African Independent Congress.

Die munisipaliteit in die noordelike Vrystaat word bestuur deur ʼn koalisie nadat nie een party ʼn meerderheid stemme kon inwin tydens die munisipale verkiesing op 3 Augustus 2016 nie.

Die Demokratiese Alliansie het ʼn koalisie aangegaan met die MCA en Vryheidsfront Plus, met ondersteuning deur die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) om die munisipaliteit te beheer.

Sello Hlasa van MCA is aanvanklik as burgemeester aangewys, terwyl Arnoldi du Ploy en Linda Radebe van die DA onderskeidelik as speaker en sweep aangewys is. Die raad het egter versuim om ʼn begroting vir die 2017/18 finansiële jaar te aanvaar as gevolg van meningsverskille tussen die koalisielede en dit is in Julie 2017 ontbind.

ʼn Nuwe raad is in November 2017 verkies, maar weereens kon nie een van die partye ʼn meerderheid verseker nie.

Die ANC het beheer oorgeneem deur ʼn koalisie aan te gaan met die SAKP, die African Independent Congress, MCA en F4SD. Shongwe van die SAKP is as burgemeester aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kerneels ·

Dis dan lede van regerende koalisie wat die mosie instel en nie opposisie soos in berig gemeld.

Peet Schabort ·

Tydens ‘n begrotingsvergadering van 24 April vanjaar op ons dorp was sy die enigste een wat opgedaag het!! Dus het geen ander raadslid, munisipale werker(s) of enige ander wat belang gehad het, opgedaag. Ons vermoed dat die afwesiges nie kans gesien het vir vrae waarvoor hulle nie antwoorde het wat insluit foutiewe rekenings, toestand van dorp, riool, wat spandeer is teenoor wat ons betaal ens. Sy het immers aantekeninge gemaak oor vrae wat sy uit die aard vd saak nie kon beantwoord. Ek wonder egter of sy enige hulp ontvang het om genoemde vrae tuis by die munisipaliteit beantwoord te kon gekry het? Ek twyfel. Sy het ons met respek behandel en dieselfde van ons kant. Sy het selfs na die vergadering nog vertoef waar inwoners met haar gesels het. Ons is ook ordelik uitmekaar na afloop vd vergadering. Daar bly net politieke woelinge aan die broei maar intussen trek die belastingbetaler aan die kortste ent. Ek verneem dat daar vandag weer ‘n dik stroom riool langs die R549 vloei in die rigting vd Taaibosspruit vanaf Refenfkgotso en dan uiteindelik (22km) die Vaalrivier. Gelukkig reën dit nog nie en sal dit hopelik wegbly. Hierdie is die goed wat eerder aandag moet kry!! Politieke speletjies is skynbaar van meer belang.
Par.7 verwys: Sy is Arnoldi du Plooy (nie Ploy).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.