Mosie van wantroue teen Zille aangehoor

Helen Zille

ʼn Mosie van wantroue wat deur die ANC teen die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, ingestel is, is Donderdag aangehoor.

Die mosie van wantroue teen Zille het misluk. ʼn Wysiging aan die mosie, wat deur die DA-hoofsweep Mark Wiley voorgestel is en waarin volle vertroue in die voormalige DA-leier uitgespreek word, is deur die wetgewer aanvaar.

Bonginkosi Madikizela, provinsiale leier van die DA, het gesê die ANC moet nou stert tussen die bene wegstap van hul eie debat. “Die ANC in die Wes-Kaap is in so ʼn toestand dat hulle vir pres. Jacob Zuma van alle mense nodig het om dit reg te ruk. Dit is geen wonder hulle is al vir die afgelope 11 jaar nie in beheer van Kaapstad nie.”

Die ANC het gesê Zille moet as premier bedank na aanleiding van die storm wat om haar kop losgebars het nadat sy op Twitter bevraagteken het of die nalatenskap van kolonialisme net negatief was.

Hierdie uitsprake, asook haar gevolglike pogings om haarself te verduidelik, het daartoe gelei dat Mmusi Maimane, leier van DA, dissiplinêre aanklagte teen Zille gebring het en later haar skorsing aangekondig het. Die aanklagte teen Zille is laat vaar nadat sy onvoorwaardelik om verskoning gevra het en ingestem het om nie weer kommentaar te lewer oor partybeleid nie.

Die ANC het Zille egter van rassisme beskuldig en volgehou haar verskoning was nie opreg nie. Die ANC het verder aangevoer daar is ʼn risiko dat die provinsie die slagoffer van ʼn magstryd binne die DA kan word en daarom moet Zille uit haar pos as premier verwyder word.

Die ANC se Cameron Dugmore het Donderdag gesê Zille is in haar hart steeds konserwatief en die kolonialistiese verdeeldheid kan steeds in die Wes-Kaap gevoel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swartkat ·

ANC is haastig om teen Zille op te tree msar nie teen Zuma en die Guptas nie.

marous ·

Ag siestog … hoop nie sy oorweeg om van party te verander nie .

Santie ·

Die ANC sal na elkr strooi-halmpie gryp om hulsef te probeer beter te laat lyk. Almal het geweet hierdie mosie van wantroue sal misluk. Dit waarvan Zille beskuldig is, kom nie eens náby van dit waarvan die President en die ANC beskuldig word nie. Tog hoop ek Zille trek handskoene aan as sy weer na die selfoon gryp, en Mmusi spring nie so vining weg met sy tong om te oordeel in die toekoms nie. Bedink en oordink eers voor jy optree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.