Mosie van wantroue teen Zuma-regering ingestel – Solidariteit Beweging

Krisisberaad-met-Willie-Spies

Die Solidariteit Beweging het op die krisisberaad vandag in Pretoria ’n mosie van wantroue teen die regering van pres. Jacob Zuma aanvaar. Foto: Reint Dykema.

Die Solidariteit Beweging het op 5 Mei tydens ‘n krisisberaad in Pretoria ’n mosie van wantroue teen die regering van pres. Jacob Zuma aanvaar.

Luidens die mosie is die agteruitgang in die land besig om momentum te kry, terwyl Zuma se bewind gekenmerk word deur korrupsie, swak regering en gebrekkige leierskap.

“Die grondwetlike skikking onder Zuma se bewind is op ’n glybaan na ’n wenner-vat-alles-benadering terwyl die demokratiese ruimte vir kultuurgemeenskappe al kleiner word.”

Daarom is besluit om ’n spesiale taakspan aan te stel om ’n omvattende strategie te ontwikkel sodat Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortbestaan.

Daar is ook tydens die beraad kennis van verskeie kwessies geneem waaronder die groeiende staatsinmenging in die privaat sektor onder die dekmantel van swart ekonomiese bemagtiging, die rol van die media, skakeling met die owerheid, Afrikaner-samewerking, die belangrikheid vir mense om goeie werk te hê, die verbreking, verligting en voorkoming van Afrikaner-armoede, die impak van verteenwoordigendheid op Afrikaans en toegang tot universiteitsopleiding vir Afrikaanse studente.

Die beraad het ook kennis geneem van die strafbaarmaking van die Afrikaner se geskiedenis en die skending van Afrikaner-monumente.

Verskeie besluite oor aksies is rondom die uiteenlopende kwessies geneem wat daarop gemik is om oplossings vir die probleme te kry.

Dit behels onder meer groter deelname en samewerking deur Afrikaner-organisasies, gesprekke met die owerheid, regsoptrede waar nodig, ingrypingsaksies om wanfunksionele instellings tot verantwoording te roep, die uitbreiding van plaaslike takke, selfdoenaksies wat plaaslike gemeenskappe kan aanpak en voortgesette druk om Afrikaanse skole en die gebruik van Afrikaans op universiteit te beskerm.

Daar is besluit die taakspan moet ook ondersoek instel na voorbeelde van hoe gemeenskappe internasionaal inspraak kry oor sake wat hulle direk raak. Die voorstelle moet alle ruimtes in die Grondwet en internasionale reg ontgin – van kulturele selfstandigheid tot gebiedsgebonde selfstandigheid.

Sien die volledige lys mosies wat vandag deur die Solidariteit Beweging aanvaar is, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Francois ·

Goed, so wat gaan DIE mosie laat slaag. As ek reg onthou, het ‘n paar ander partye dit probeer en net mooi nerens gekom nie. Wat maak dit die keer anders?

Edwin ·

Mosie van wantroue deur Afriforum is van baie meer waarde want ons vertrou dat hulle sal oorgaan tot aksie. Elke SA ner behoort aan te sluit by Afriforum, hulle tree op vir ons nasie

Ampie ·

Daar is 16 mosie aanvaar, van die wantroue in Zuma, tot wat gedoen moet word omtrent standbeelde, Afrikaans in skole, diskriminasie in die werkplek ens. Elke mosie het ‘n aantal aksiepunte uiteengesit. Gaan kyk gerus op http://www.krisisberaad.co.za vir al die mosies. Die bywoon van die kongres was inspirerend.

Jax ·

o liewe land! Letterlik! Hoe op aarde gaan dit n verskil maak? Ons kan nie saam werk nie. Dis al oor en oor bewys! Ons kan nie eens met ons buurman ( wat langs ons woon, langs ons werk of selfs langs ons ry) saamwerk nie! Dis iets wat elkeen van ons baie hard aan gaan moet werk! Elke een staan op sy/haar eie klip en probeer beter wees as die een voor, agter of langsaan. Ek het dit net nou elders ook gesê: ons praat te veel en doen te min!

Johannes ·

Wat jy se maak geen sin nie. Die beraad wys juis hoe ONS as Afrikaners kan saamstaan. Nie een persoon by die beraad het ‘n ander een aangeval of van hom verskil nie. Almal het dieselfde boodskap uitgedra, nl ons is hier om te bly. Jou probleem is jy klou nog vas aan die reeds holruggeryde gesegde dat ons nie kan saamstaan nie. Dis lankal iets van die verlede. As jy deel wil wees van die oplossing en nie die probleem nie is hierdie nou ‘n gulde geleentheid vir jou om vir ons te wys hoe ons moet saamstaan. Jy kan begin deur die mense wat die moeite gedoen het om die beraad te reel en ook daaraan deel te neem, te ondersteun, eerder as om hulle af te kraak. Ek nooi jou vriendelik uit om te help bou aan die Afrikaner se beeld, eerder as om vir die wereld te se ons (wat jou insluit) is te dom en te sleg om saam te staan.

Theo ·

Jax, Ek, jy en baie ander voel ook so maar kom ons begin by ons self en werk daaraan. Jou kommentaar het soppas een van my swak punte ontbloot. Ek moet, ek kan, ek wil en ek gaan daaraan werk. Groete.

PURE BOER ·

Ja nee Jax. Nou beledig jy my en my Volk deur te se ons kan nie saam staan nie.
Wees eerder deel van die oplossing en staam saam met jou Volk, sluit aan by AfriForum en wees deel van ons. Jy kan dit doen. Moenie deel van die probleem wees nie, kla oor die, kla oor daai, ons kan nie saam staan nie, en, en, en,,,,,.
Jy het seker nog nooit probeer om saam te staan nie, dis hoekom jy sulke negatiewe komentaar wil lewer. As jou oe oop gaan, sal jy sien hoeveel van ons Volk staan saam. Dis julle wat saam moet kom staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.