Mosie van wantroue: Zuma se nege politieke lewens en die geheime stemmery

baleka-mbete

Die speaker, Baleka Mbete, sal binnekort sê oor ‘n geheime stemmery in die volgende mosie van wantroue teen Zuma. Foto: Reuters/ANA

Dit het die speaker, Baleka Mbete, 46 dae geneem om te besluit of die parlementslede (LP’s) wel Dinsdag in die geheim kan stem vir die sewende mosie van wantroue wat teen pres. Jacob Zuma ingestel is.

Maroela Media het met verskeie politieke ontleders gesels om vas te stel of hulle meen Mbete wel ʼn geheime stemming sal toelaat en, indien sy dit doen, of hierdie mosie van wantroue wel hierdie keer geslaag teen die president sal wees.

Dr. Eugene Brink, navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut

“Ek twyfel sterk of daar ʼn geheime stemming toegelaat sal word. Ek sien eerder dat Mbete ʼn openbare stemming sal toelaat en die status quo so behoue sal bly, terwyl Zuma hierdie mosie van wantroue ook sal oorleef om nog ʼn dag langer aan te bly om te veg vir sy faksie se belange.”

Brink reken 8 Augustus se mosie van wantroue is eintlik net nog ʼn taktiese skuif in opposisiepartye se groter strategie teen die ANC. “So sleg soos wat dit klink, het die partye eintlik iemand soos Zuma nodig in die ANC om dié party in die 2019-verkiesing te kan verslaan. Die DA is tans besig om ammunisie teen die ANC op te bou. Die mosie van wantroue geniet tans sensasionele mediadekking en die DA gaan hierop terugval sodat hulle kiesers daaraan kan herinner dat die partylede nie iemand soos Zuma wou uitstem nie.”

Brink sê hy glo die ANC kan tans net die beste opsie uit ʼn klomp slegte keuses kies, maar wat hulle ook al kies, gaan die party seermaak.

“Ek dink maar aan die ANC se hoofsweep, Jackson Mthembu, wat verlede week gesê het die ANC-LP’s wat nou volgens hulle gewete wil stem, moes in die eerste plek nooit by die ANC aangesluit het nie – praat van met jou voet in jou mond sit.”

Brink reken voorts die ANC se Desember-konferensie is die plek waar die ANC die kwessie intern sal uitsorteer.

“Zuma sal vroeg volgende of middel 2018 as staatspresident uittree. Hy sal ook nie deur sy eie party vervolg word nie; ek vermoed so ʼn vervolging sal deur die burgerlike samelewing of opposisiepartye van stapel gestuur word, want as die ANC die vervolging sou lei, sal die party heeltemal verskeur raak.”

Brink maan dat Suid-Afrikaners nie om ʼn verskeuring van die ANC moet hoop of daarop staatmaak nie. “Ons is ongelukkig nie ʼn suiwer Westerse demokrasie nie. Die verskeuring van die ANC kan ʼn klomp onrus vir Suid-Afrika ontketen en dit sal nie goed wees vir Suid-Afrika nie. In Afrika werk dinge ʼn bietjie anders – kyk maar na ander verkiesings in Afrika – verloorders sweep vinnig hulle faksies of etniese groepe op, want hulle voel verontreg en het niks om te verloor nie. ʼn Skeuring van die ANC-party kan groot negatiewe implikasies vir Suid-Afrika inhou.”

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa:

Kotzé sê hy reken ook dat die speaker in alle waarskynlikheid nie ʼn geheime stemming gaan toelaat in hierdie mosie van wantroue nie.

“Die laat aankondiging deur die speaker en die ANC se verklaring van verlede week wat gesê het hulle is nie ten gunste van so ʼn stemming nie en dat daar dissiplinêr opgetree sal word teen ANC-LP’s wat vir die mosie stem, is alles aanduidings dat daar waarskynlik nie ʼn geheime stemming sal plaasvind nie en dat Zuma ook hierdie mosie sal oorleef.”

Kotzé het ook gesê dit sal eintlik vir hom interessant wees om te sien wie wel nog vir die mosie van wantroue sal stem indien die stemmery môre in die openbaar sal voortgaan.

“Ek dink egter die hoofrede waarom die meeste ANC-LP’s nie die mosie van wantroue sal ondersteun nie is omdat hulle nie die krediet aan die opposisiepartye wil gee om besluite oor Zuma se toekoms te neem nie.”

Volgens Kotzé het baie mense tot onlangs nog nie besef nie dat ʼn geslaagde mosie van wantroue ook ʼn mosie van wantroue teen die hele regering sal wees en dit ontbind.

“Ek twyfel of die ANC bereid is om hierdie soort onsekerheid te skep waar die land sonder ʼn regering en kabinet sit.”

Prof. Willie Breytenbach, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch:

“Ek sal my ou hoed opeet as daar in die geheim vir die mosie van wantroue teen Zuma gestem kan word, en dit boonop geslaag is. Ek sal spesiaal ʼn ou hoed moet gaan koop, maar ek sal hom opeet,” het Breytenbach geskerts.

Hy meen ook die speaker sal beslis nie Maandagmiddag aankondig dat die stemmery vir die jongste mosie van wantroue in die geheim gedoen mag word nie.

Breytenbach reken ook die mosie van wantroue sal misluk om hoofsaaklik twee redes:

“Die Grondwet vereis dat, indien ʼn mosie van wantroue ingestel en aanvaar word, moet nie net die president nie, maar ook die hele kabinet en hulle adjunkministers bedank. Die land sal met ʼn parlement sit sonder enige uitvoerende gesag. ʼn Nuwe president sal binne 30 dae aangewys moet word, terwyl niks Mbete verhoed, wat in die tyd sal moet waarneem, om net weer vir Zuma en die ANC-lede aan te stel nie.

“Verder sal die uitvoerende gesag ook moet bedank. Dit sluit 80 LP’s in uit armoedige agtergronde. Hulle totale verdienste is ver oor die miljoen per jaar. Hierdie mense het geen ander kwalifikasies om op terug te val, afgesien van hulle bande met die ANC nie, en hulle gaan nie so ʼn soort besoldiging opoffer nie.”

Breytenbach voorsien ook dat die EFF en DA reeds gereed sal staan om dadelik interdikte by die howe te verkry om appel aan te teken sou Mbete nie ʼn geheime stemming toelaat nie. “Verskeie debatte sal plaasvind of dit wel die regte prosedure is omdat daar nog nie so ʼn situasie in SA was nie. Indien dit die pad is wat ons gaan loop, gaan ons eers baie later uitvind waar ons met die plaaslike politiek staan.”

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit:

Duvenhage het dit ook eens dat daar nie ʼn geheime stemming rondom die mosie van wantroue sal plaasvind nie, en dat, indien die mosie van wantroue wel sou plaasvind, Zuma dit weereens sal oorleef.

“Indien die onmoontlike sou gebeur – ʼn geheime stemming waarin Zuma die mosie van wantroue nie oorleef nie – sal dit die mees dramatiese politieke insident sedert 1994 in Suid-Afrika wees.

“Ek dink egter mense moet onthou in die ANC se wêreld is die party groter as die Suid-Afrikaanse staat. Dit is hulle huis en in hierdie wêreld kan die parlement nie vir die ANC besluite neem nie. Die ANC kan wel vir die parlement besluite neem.”

Sou die mosie van wantroue egter argumentsonthalwe geslaag wees, sal die saak terugverwys word na die ANC se nasionale uitvoerende komitee waar Zuma dan steeds die president van ANC is, hoewel nie meer van die land nie, en hy sal steeds aanbevelings kan maak oor wie as die nuwe president en kabinet aangewys kan word.

“Dit terwyl die speaker sal moet waarneem, terwyl sy ook al gesê het sy is beskikbaar as ʼn presidentskandidaat vir die volgende verkiesing, wat ʼn hele nuwe politieke speelveld open.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

m ·

Hierdie man sal nooit iets oorkom nie. Hy gaan sit tot 2019 en niemand gaan iets daaraan kan doen nie. Mense kan maar toi toi tot hulle blou is in hulle gesigte.. Pappa is hier om te bly.

Leeutjie ·

Sekerlik die onpopulerste figuur in S.A. Dikvellig met geen trots!!

Doemprofete ·

Prof Willie Breytenbach, smeer solank daardie hoed botter!

Pieta ·

Met of sonder botter…hy gaan hom eet. geheime stemming reeds ‘n werklikheid. More is dit goebaai meraai. Sal niks verbaas wees as zuma reeds in Dubai is nie.

MissDemeanor ·

Hahaha. Ja dit is presies wat ek nou ook gedink het. Die rede waarom sy so lank geneem het om te besluit, is omdat dit beter was om te wag tot die laaste oomblik. Ek dink sy het lankal haar besluit gemaak maar was bang vir die gevolge (mens kan dit verstaan). Ek is so bly. Vandag begin ek weer hoop kry. Maar kom ons wag tot more voor ons die perd voor die wa inspan.

Hm-hm ·

U sal dan maar solank aan die helfte van u ou hoed moet begin kou, prof Willie…

Swartkat ·

Zuma het nog baie lewens, more in net die begin van nog vele. Zuma is soos 50/50 terwille van oorlewing – niemand gaan hom uitkry nie

Johan Bruwer ·

Vlam Bruwer
Prof Willie vir sulke goeie nuus eet maar die hele hoed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.