Mosselbaai-grondverskuiwing: Munisipaliteit reageer

Foto: Susan Purén

Die Mosselbaai-munisipaliteit sê hulle kon na verskeie pogings nie die verslag bekom waarin kundiges waarsku dat verdere eiendomme in Seemeeupark en Seemeeuvlug in Mosselbaai ontruim moet word nie.

Die verslag is verlede week aan die nasionale boureguleerder, die NHBRC, gestuur. Maroela Media het Dinsdag berig dat prof. J Louis van Rooy, ʼn ingenieursgeoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria, se verslag dringend bekend gemaak is nadat swaar reën Sondag oor Mosselbaai uitgesak het en groot skade aan eiendomme aangerig is.

Sowat sestig gesinne moes in 2016 hulle spogeiendomme in Seemeeupark en Seemeeuvlug ontruim toe groot krake feitlik oornag in huise verskyn het. Die woonbuurtes is in twee ongerehabiliteerde gruisgroewe gebou.

Baie van die huise is destyds gesloop, maar die woonbuurtes word steeds gedeeltelik bewoon. Die sestig gesinne wat moes trek, is tans in ʼn hofsaak met die Mosselbaai-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering gewikkel waarin hulle skadevergoeding van R200 miljoen eis.

Maroela Media het twee maande gelede berig dat die oorblywende huise steeds verder kraak en dat waterpype feitlik daaglik herstel moet word. Die berig het die aandag van die span kundiges getrek wat daarna, op eie inisiatief en sonder vergoeding, die grondverskuiwings begin ondersoek het. Die Van Rooy-verslag is die resultaat van die ondersoek.

Die munisipaliteit sê in ʼn verklaring aan die media hulle neem kennis dat die sogenaamde bevindinge wat prof. Van Rooy se span gemaak het, nie gegrond is op enige geotegniese toetse wat uitgevoer is nie.

Foto: Susan Purén

“Dit skep die indruk dat die berig eerder op sensasie fokus wat onnodige paniek onder die publiek saai. Daarom is daar in dié stadium geen rede tot kommer vir lede van die publiek wat op ʼn dringende basis hul eiendomme hoef te ontruim nie,” sê die munisipaliteit se mediawoordvoerder, Nicky le Roux.

Sy sê die munisipaliteit vind dit betreurenswaardig dat hulle geensins vooraf om kommentaar of inligting genader is of geleentheid gegun is om hul kant van die saak te stel, voor die berig in die media verskyn het nie.

Le Roux sê verder dat die munisipaliteit die huidige situasie in Seemeeupark met groot erns hanteer en dat dit voortdurend gemonitor word deur geotegniese ingenieurs wat deur hulle aangestel is. Hulle het ʼn hofbevel verkry vir die ontruiming van vier eiendomme, maar die munisipaliteit dra nie kennis van ander eiendomme wat na die reënval ontruim moes word nie.

Le Roux het Dinsdag onderneem om nog hierdie week die munisipaliteit se geohidrologiese verslae aan Maroela Media te oorhandig, maar sê nou dit is deel van ʼn komende regsaksie en is daarom sub judice, wat beteken hulle kan nie die verslae bekend maak nie.

Die munisipaliteit het die publiek genooi om in die toekoms met die nodige vrymoedigheid die munisipaliteit vir inligting of kommentaar te kontak by 044 606 5000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gunther V ·

Miskien vertrou niemand meer die munisipaliteit nie en wil nie met hullle te praat . . . hoekom sal hulle?

Mieke ·

En intussen is alle huise niks werd en onverkoopbaar……..

Nico ·

Ag MBaai munisipaleteit hou op om amptenare en eienaars van die grond voor ontwikkeling te beskerm wat saam lekker sakke vol geld weggedra het. Al die betrokkenis moet net die huidige eienaars wat so om die bos gelei is vergoed vir hul werklike verliese. DA swakheid en gierigheid steek net alhie meer kop uit.

Deon Alberts ·

Julle artikel is foutief. Die huise wat geaffekteer is in Seemeeuvlugt en Tuscany. Nie Seemeeupark nie dit is die naam van die hele voorstad.

B ·

‘Nie geGROND’ is op enige geotegniese toetse’ se hy terwyl die sand onder hom meegee…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.