Mosselbaai-werkers oor grafte-bedrog gevonnis

Argieffoto (Foto: drippycat/Pixabay)

Twee voormalige werknemers van die Mosselbaai-munisipaliteit, Megan Kim Abdul (34) en Francis Siphokazi Majola (51) is skuldig bevind op 23 aanklagte van bedrog ter waarde van R138 000. Hulle is Vrydag in die plaaslike landdroshof gevonnis.

“Die twee vroue is elkeen vyf jaar tronkstraf opgelê waarvan twee jaar vir ʼn periode van vyf jaar opgeskort is met streng voorwaardes. Hulle sal elkeen effektief drie jaar tronkstraf uitdien,” sê Zinzi Hani, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Die twee is in 2018 in hegtenis geneem deur die Valke se eenheid in George wat ernstige handelsmisdaad ondersoek.

Abdul en Majola het die status van graf-erwe, wat deur begrafnisondernemers gekoop is, van standaard grafte verander in hulpbehoewende grafte of verassing saam met ander onreëlmatighede sonder dat die begrafnisondernemers van die veranderinge bewus gemaak is.

Die Valke se ondersoek het onthul dat dié bedrieglike voorvalle tussen Julie 2016 en April 2018 plaasgevind het. Die twee vroue het munisipale kassiere opdrag gegee om die verskil aan hulle oor te betaal en hulle het die kontant vir eie gewin aangewend, sê Hani.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank John ·

Nee wat, skelms sal altyd voor wees met hul skelm streke, hulle planne raak nie op nie.

Lillian ·

Nie eens die dooies ontkom die korrupsie in hierdie land nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.