Mostert se Meul herrys uit die as

Só lyk Mostert se Meul nou. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUP)

Deur Daniel Steyn, GroundUp

Die restourasie van Mostert se Meul in Kaapstad is byna voltooi.

Die geskiedkundige windmeul in Mowbray het die afgelope twee jaar stadig maar seker as’t ware uit die as herrys nadat ʼn brand dit in April 2021 in puin gelê het.

Die meul se seile is vroeër vandeesweek gepas – ’n belangrike stap in die restourasieproses.

Die restourasie van die meul word gedryf deur die Vriende van Mostert se Meul, ʼn organisasie sonder winsbejag wat al 25 jaar lank na die meul omsien.

“Om ʼn ou windmeul te herbou is ʼn interessante proses,” vertel John Hammer, voorsitter van die organisasie.

Die meul was die laaste oorblywende werkende windmeul in Afrika (en een van net drie in die Suidelike Halfrond) en is meer as 200 jaar oud. Toe raak die meul se grasdak aan die brand tydens die  verwoestende brande in Kaapstad in April 2021.

Mostert se Meul destyds ná die brand. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUP)

Al die houtmasjinerie is destyds in die brand verwoes en slegs die gemesselde kliptoring, die meulstene en die oorspronklike ysterware wat uit die puin herwin is, het oorgebly.

Maroela Media het vroeër berig die koste van die restourasieproses sou na raming net meer as R3 miljoen beloop.

Meulkundiges is sedertdien danksy passievolle inwoners van Mowbray sowel as die Rupert-familie kenners in Nederland geraadpleeg en seillappe en opgeknapte meulstene vandaar ingevoer.

Die beste plaaslike vakmanne waaronder skrynwerkers is ook gekontrakteer om die meeste van die gespesialiseerde herstelwerk te doen.

Daar word egter min vordering gemaak met die herstel van die ander historiese geboue wat ook byna twee jaar gelede tydens die brand beskadig is. Dié geboue sluit in De Meule, bestuur deur die departement van openbare werke, die huis agter die meule, Cadboll House, wat van die Universiteit van Kaapstad (UK)  se administratiewe kantore gehuisves het, en die Rhodes Memorial-restaurant, bestuur deur SANParke.

Die UK se Jagger-biblioteek is ook tydens die brand verwoes. Die biblioteek, wat ten tyde van die brand argiewe gehuisves het, word glo nog deur die UK “herbedink”.

Die universiteit het egter nie op GroundUp se vrae oor die huidige status van die Jagger-biblioteek gereageer nie.

  • Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn en word met vergunning hier geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sandra ·

Alles in staatsbesit gaan agteruit, so moenie worry nie, daar gaan dadels van kom. Die geskiedenis is daarmee heen. So bly hulle kon die meul herbou.

Pietertjie ·

Weereens duidelike bewys dat die Staat en tersiëre instellings nie belangstel in instandhouding en behoud van kultuur en geskiedenis nie.

Fritz ·

Wonderlike werk wat reeds gedoen is! Ek salueer almal betrokke!

Cherokee ·

Toe ek ‘n klein plaasseun was, het Oupa gebruik gemaak van ‘n watermeul. ‘n Meul wat aangedryf was deur die lopende water van ‘n rivier.

JohanR ·

Ons het die kundigheid in die land. Net jammer daar is nie by Eskom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.