Motau voorspel ‘beperkte sukses’ om VBS-geld terug te kry

Adv. Terry Motau het Woensdag gewaarsku dat dit waarskynlik ʼn lang proses met beperkte sukses sal wees om geld terug te kry wat weens bedrog by VBS Mutual Bank verloor is.

“Ek is nie optimisties dat ons ʼn groot bedrag sal terugkry nie. Ek verwag dat ons waarskynlik tussen 20c en 30c vir elke rand sal terugkry,” het hy aan die parlementêre staande komitee oor finansies gesê.

Hy het bygevoeg die diefstal by VBS “is nie ʼn slagofferlose misdaad nie”, omdat dit waarskynlik jare sal duur voor die geld teruggekry word en dat nie alle persone al hul geld sal terugkry nie. “Minstens 3% sal nie hul geld ten volle terugkry nie,” het hy gesê en bygevoeg dié bedrag beloop ongeveer R90 miljoen.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het waarborge van tot R100 000 per deponeerder vir VBS by die nasionale tesourie bekom, maar Motau het daarop gewys dat dit steeds ʼn ouma weerloos laat wat dalk haar spaargeld van R150 000 by die bank en geld in ʼn gemeenskaplike stokvel van R250 000 belê het.

Motau het die verdoemende forensiese verslag van 148 bladsye opgestel waarin besonderhede vervat is hoe nagenoeg R2 miljard onwettig aan 53 persone uitbetaal is. Hy beveel aan dat die aanspreeklike persone strafregtelik vervolg word.

Silas Ramaite, waarnemende hoof van die nasionale vervolgingsgesag, het aan LP’s gesê vyf staatsaanklaers werk aan die saak en gee leiding aan die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke). Hy het dit benadruk dat Motau se verslag as ʼn wegspringplek gebruik moet word vir die ondersoek, maar dat dit nie voldoende is om met klagtes voort te gaan nie. “Die verslag op sigself is nie voldoende om ʼn vervolging te verseker nie. Ons wil nie bloot daarop steun met die wete dat daar reeds uitdagings is nie,” het hy aan die komitee gesê. “Dit sal waarskynlik hersien word.”

Motau, die Reserwebank en die nasionale tesourie moes bontstaan om vrae van LP’s te beantwoord oor wanneer ongerymdhede by VBS aan die lig gekom het.

Ismail Momoniat van die tesourie het aangedui onreëlmatighede in Oktober 2017 aangemeld is. Hy het gesê owerhede kon vinniger opgetree het.

Lees alle vorige berigte oor VBS Mutual Bank op Maroela media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

En die munipaliteite wat geld by VBS belê het? Gaan hulle ook nie hulle geld terug kry nie? En dan moet die hardwerkende, wettige huis-eienaar weer daarvoor instaan met verhoogde tariewe en grondbelasting? Dis tyd dat die belastingbetalers van hierdie land begin beswaar maak teen die verkwisting van hulle hard verdiende inkomste……

John ·

Wat van lenings by die bank soos bv die’ van Zuma tov die Nkandla-sage. Gaan hy dit steeds terugbetaal of is dit nog een van sy gelukskote?

Claudette ·

Verkoop die 53 persone se bates en gee die mense se geld terug.

Heather ·

En ons moet maar net uithaal en wys met verhogings in petrol pryse, voedsel pryse, ens. ons eerbare mense word net al armer, maak my so kwaad dat die regering besig is om Suid Afrika bankrot te maak met al hul gestelery! En daardie geld sal nooit weer teruggekry word nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.