Motief onbekend ná skietery op Kunene

Kenny Kunene tydens die bekendstelling van EFF op 11 Julie 2013 Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Saak van poging tot moord word ondersoek nadat daar Dinsdagaand glo verskeie skote op die flambojante sakeman, Kenny Kunene, in Waverley, Johannesburg, afgevuur is.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê volgens Kunene het hy in Scottstraat gery en wou net in Corlett-rylaan indraai toe die skote op sy voertuig afgevuur is. Peters het gesê patroondoppies is op die toneel gevind waar die beweerde skietery plaasgevind het.

“Ons het nog nie ʼn motief vir die voorval vasgestel nie; alle moontlikhede word ondersoek. Ons ondersoek maak baie staat op die klaer se verklaring en ons doen ʼn beroep op enige ooggetuies om na vore te kom met inligting wat die polisie kan bystaan in die ondersoek,” het Peters gesê.

Sedert die nuus van die voorval aan die lig gekom het, word daar wyd bespiegel of die skietery eintlik ʼn mislukte kaping was en of dit verband hou met bewerings dat adj.pres. Cyril Ramaphosa verskeie buite-egtelike verhoudings het.

Maroela Media het vroeër berig dié aantygings het aan die lig gekom nadat die Sunday Independent vrae aan Ramaphosa oor die beweerde verhoudings gestuur het. Ramaphosa het gesê uit die vrae was dit duidelik dat e-posse van sy private e-posadres bekom en aan minstens een mediahuis verskaf is.

Ramaphosa het in reaksie op die bewerings dat hy vroue met wie hy verhoudings het finansieel ondersteun, gesê hy en sy vrou ondersteun studente, mans en vroue, al jare lank finansieel. “Dit is sleg dat die bewyse van die betalings gebruik word om die skandelike aantygings te maak, en nóg erger om die name van sommige mense wat ek gehelp het bekend te maak,” het hy gesê.

Hy het die bewerings afgemaak as ʼn politieke smeerveldtog.

The Citizen berig Kunene beweer Steven Motale, sy vriend en redakteur van die Sunday Independent, was veronderstel om gisteraand saam met hom in die motor te ry, maar lyfwagte het Motale in ʼn ander motor laat klim voordat hulle vertrek het. Die skietery het kort daarna gebeur.

Motale het ook aan The Citizen gesê hy het doodsdreigemente ontvang voordat en nadat die koerant die bewerings oor Ramaphosa geplaas het. Kunene het ook bewerings oor die gelekte e-posse oor Ramaphosa se beweerde verhoudings op sy webwerf Weekly Xposé geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mielie ·

Regtig? Of julle probeer CR in n swak lig te stel…..wat heel waarskynlik julle plan is soos ons die JZ faksie ken ….. of julle dink die publiek is dof. Maar die minderheid weet van beter. As jy n president in die land word moet jy n klad teen jou naam he. CR jy is op die regte pad…..

Cherokee ·

So, jy is toe ‘n ANC-aanhanger. Ek hoop nie daar is meer Afrikaanssprekendes wat die ANC ondersteun nie.

alida ·

In hierdie saak word poging tot moord ondersoek maar met ‘n plaasaanval as die mense met pikke en ysters geslaan word is dit net aanrandig. Wie kan vir my verduidelik hoe defineer mens die twee gevalle.

Wie se so? ·

Kenny Kunene is seker een van die rykste swart mans in SA< waarvoor hy vir die EFF stem en ekonomiese bemagtiging wil hê weet ek darem nie. Vreemd dat die leiers van die EFF stinkryk is en swem in die geld maar maak of hulle omgee vir die wat niks het nie, want dit is hulle ondersteuners, die armes, die massas wat maklik beinvloed kan word en niks het om te verloor nie, wat enigiets doen wat hulle 'ryk' leiers hulle voorsê om te doen. Kenny is 'n baie suksesvolle en baie ryk sakeman. Sal my nie verbaas as die koeel vir hom was nie ..

Nicolise ·

Poging tot moord? Maar ‘n tannie van oor die 80 word in ons dorp vyf keer met ‘n mes is haar nek gesteek en dit is nie poging tot moord nie. Dis belaglik.

Cornelius du Rand ·

As dit waar is, is die ” aanvallers” sekerlik blind of gestrem. Volgens media berigte was daar 21 skote op hom geskied en nie een is raak nie. Hierdie voorval ruik na ‘n opgemaakte storie.

Jan ·

Het julle ooit na die fotos van die “koëlgate” in sy kar gekyk? Nie een gat nie, net duike. Ook nie opgemerk dat hy in ou BMW met gladde bande daardie aand gery het ipv sy gewone duur kar nie? Agterdogtig nê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.