Motief vir Pretoria-man se skietdood ondersoek

Die toneel Donderdagaand (7 April 2016) in Ermastraat. Foto: Best Care-ambulansdienste

Die toneel Donderdagaand (7 April 2016) in Ermastraat. Foto: Best Care-ambulansdienste

Die polisie ondersoek die motief vir die moord op ʼn man van Pretoria wat Donderdagaand ten aanskoue van sy seun voor sy sakeperseel, in die weste van die stad, doodgeskiet is.

Kapt. Bonginkosi Msimango, woordvoerder van die polisie, het gesê André Bezuidenhout (67) is in sy motor in Ermastraat in Andeon doodgeskiet.

Msimango het gesê Bezuidenhout en sy seun was albei in die motor en het voor die hek van ʼn busmaatskappy, waarvan hy die eienaar is, stilgehou, toe twee verdagtes verskeie skote op die motor geskiet het. Bezuidenhout is twee keer in sy bolyf getref en is op die toneel dood. Sy seun is nie beseer nie.

Volgens Msimango is die polisie nie seker wat die motief vir die moord was nie, aangesien niks gesteel is nie. “Die twee verdagtes het te voet gevlug, maar niks is gesteel nie. Dit was nie ʼn rooftog nie en die motief word nog ondersoek,” het Msimango gesê.

Xander Loubser, woordvoerder van Best Care-ambulansdienste wat op die toneel was, het aan Maroela Media gesê hulle het byna ʼn halfuur lank gespook om Bezuidenhout weer by te bring, maar hulle kon niks vir hom doen nie. Hy is op die toneel dood verklaar.

Maroela Media het Bezuidenhout se familie genader, maar hulle wou nie kommentaar lewer nie. Volgens Loubser is hierdie een van talle skietvoorvalle die afgelope paar maande in Pretoria-Wes en loop die hele gebied onder ʼn vlaag misdaad deur.

Msimango het ook aan Maroela Media bevestig misdaad is ʼn groot probleem in die gebied, maar het beklemtoon die verskillende gevalle kan nie noodwendig met mekaar verbind word nie. “Vorige gevalle wat aangemeld is, was rooftogte of inbrake waartydens goedere gesteel is. In hierdie spesifieke geval is die motief nie duidelik nie en daarom kan die polisie dit nie met ander gevalle verbind nie. Die motief word wel ondersoek,” het hy gesê.

Maroela Media het in Februarie berig die eienaar van Best Care-ambulansdienste het ook onder misdadigers in Pretoria-Wes deurgeloop toe hy langs die pad met ʼn mes gesteek is. Kobus Bester (45) is deur ʼn wit Volkswagen Golf met blou ligte in Van der Hoffweg van die pad af getrek en twee mans het uit die motor geklim en vir sy rybewys gevra. Hulle het daarna skielik sy bakkie se deur oopgemaak en hom uit die voertuig geruk, voordat hulle hom met ʼn mes gesteek, geslaan en geskop het. Die aanvallers het met Bester se beursie en selfoon gevlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rey ·

Al die geweld is te danke aan al die nuwe plakkerskampe in die gebied. Sê liewers niks….

KP ·

Terroriste is dan in beheer van die land, so wat verwag ons anders.

net ekke ·

Ek is in die omgewing geweld neem daagliks hier by ons toe dit is as of hul die kant wil begin skoonmaak ek stem saam vandat die gamora plakkerskamp hier tussen ons huise is het geweld baie toegeneem en dankie vir ons sektor mense hul doen stunning werk want ons sapd is nie opgewasse teen die crime nie sterkte vir die oom se familie en RIV

Xa ·

Ek raai dis mense wat nie van kompetisie hou nie. Polisie: Kyk na taxi eienaars en ander busdienste wat roetes deel met of wil oorvat van die man se besigheid.

SNEL ·

Baie sterkte aan die seun wat sy pa so moes sien sterf. Kan my nie eers indink hoe jy moet voel nie. Baie sterkte ook aan die res van die familie deur die moeilike tyd, mag die Here julle almal dra en krag gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.