Motor beland in dam by lodge

Ambulanse van Underberg nooddienste. (Foto: Facebook)

ʼn Vrou is dood nadat ʼn motor op ʼn damwal by ʼn lodge in Underberg die pad verlaat het.

Volgens ʼn verklaring is paramedici van Underberg se mediese dienste Vrydag ongeveer 22:00 na die lodge ontbied met inligting oor ʼn motorongeluk.

“By hul aankoms op die toneel het paramedici gesien dat ʼn enkele voertuig by die damwal afgegly en in die dam beland het.”

Die lodge-bestuurder het aan paramedici gesê daar was twee insittendes in die motor.

“Een insittende, ʼn man, kon uit die voertuig ontsnap en het ongeveer 2 km geloop om hulp te ontbied. ʼn Vrouepassasier was egter steeds in die voertuig vasgekeer,” lui die verklaring.

Volgens Ryall McAlister, ʼn paramedikus wat op die toneel was, kon hulle nie die motor bereik nie, omdat die motor te diep in die water was en gure weersomstandighede dit moeilik gemaak het om te sien.

“Die polisie se soek-en-reddingseenheid is na die toneel ontbied, en het vroeg Saterdagoggend die soektog hervat. Die vrou se liggaam is ‘n paar uur later uit die water gehaal,” het McAlister gesê.

*Hierdie berig is aangepas sedert dit vir die eerste keer gepubliseer is – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.