Motor-, bestuurslisensies nog langer geldig

(Argieffoto)

Die departement van vervoer het besluit om die geldigheid van alle motor- en bestuurslisensies wat in die afsonderingstydperk verval het of nog gaan verval, verder te verleng.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het regulasies in die Staatskoerant gepubliseer oor die geldigheid van rybewyse en lisensies vir voertuie wat tydens die afsonderingstydperk en binne die komende paar weke verstryk.

Alle leerlingrybewyse, rybewyse, tydelike rybewyse en professionele bestuurspermitte wat verstryk in die tydperk van 26 Maart tot 31 Augustus word as geldig beskou en die geldigheid daarvan word verleng tot 31 Januarie 2021.

Motorlisensieskyfies, tydelike permitte en padvaardigheidsertifikate wat tussen 26 Maart tot en met 31 Mei verval het, word steeds as geldig beskou en die geldigheid daarvan word verleng tot 31 Augustus.

Die Automobiel‑Assosiasie (AA) het die jongste verwikkelinge as ʼn reuseoorwinning vir motoriste bestempel.

Die AA het minder as twee weke terug ʼn aanlyn petisie van stapel gestuur om die departement te oortuig om die geldigheidstydperk van lisensies tot einde Januarie 2021 te verleng.

“Dit is wonderlike nuus vir motoriste wat bekommerd was oor die feit om wettig op die pad te wees weens die toenemende agterstand met hernuwings,” het Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die AA, gesê.

Groenewald het ʼn beroep op motoriste gedoen om wel so gou as moontlik enige lisensies wat verstryk het, te probeer hernu.

Die AA het die verlenging versoek om voorsiening te maak vir die sluiting van lisensiesentrums tydens die feestyd, en vir verdere moontlike sluitings as gevolg van Covid-19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stof ·

Ek is oor die algemeen gelukkig met verkeersdepartemente se diens, beide adminstratief en op die pad. Abel Konstabel en sy kollegas doen regtig moeite om ons uitdagings ligter te maak. Welgedaan! Mag hulle seën en guns ruim wees.
Ek glo dat van die ander staatsfunksionarisse, gerus kan aaklop by Abel, vir advies en mentorskap.

Hennie ·

Dis net jammer dat duisende motoriste nou hierdie vergunning gruwelik misbruik want hulle sit met lisensies en permitte en wat nog wat reeds voor die datum van inperking verval het. Lisensie owerhede sal moet boetes hef indien dit die geval sou wees by hernuwing na die uitstel periode. Die regering sal ‘n kas vol geld verdien!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.