Motor ‘ontplof’: Gemeenskap ruk op om paartjie te groet

'n Emosionele totsiens vir 'n GPF-lid en sy verloofde. Foto: Facebook.

‘n Emosionele totsiens vir ‘n GPF-lid en sy verloofde. Foto: Facebook.

Honderde voertuie het Sondag ʼn stoet van sowat 4 km lank gevorm as deel van ʼn huldeblyk aan ʼn Boksburgse GPF-lid wat vroeër die oggend saam met sy vriendin in ʼn motorongeluk dood is.

Jacques Day (24) en sy vriendin, Jacqueline Roos (21), is Sondag omstreeks 01:00 in Benoni aan die Oos-Rand in ʼn motorongeluk oorlede. Hulle sou in Desember verloof geraak het.

Day was nie aan diens ten tyde van die ongeluk nie. Hulle was op pad huis toe nadat hulle ‘n geleentheid bygewoon het, toe Day beheer oor sy motor, ʼn Renault, verloor het. Die voertuig het die pad verlaat, teen ʼn lamppaal gebots, gerol en ontplof. Albei is op die toneel dood verklaar.

Denise Curry, voorsitter van Boksburg-Noord se sektor 1-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het Maandag aan Maroela Media gesê sy is al sowat twee en ʼn half jaar aan stuur van die sektor en dit was haar grootste vrees om een van haar “manne” te moet groet.

“Al die jong manne is soos seuns vir my,” het ʼn emosionele Curry gesê. “Met al die misdaad is ʼn mens elke keer bekommerd wanneer hulle uitgaan op patrollie en die nuus dat iemand so ontydig van ons weggeneem is, het as ʼn groot skok vir almal gekom.”

Curry het gesê dit was egter wonderlik om te sien hoe die gemeenskap reageer het toe hulle besluit het om ʼn huldeblyk vir hom en Roos te hou.

“Jacques was 17 maande deel van ons sektor. Hy was entoesiasties, het baie energie gehad en was ʼn regte adrenalin junky. Hy het juis die laataand- en vroegoggendskofte gekies omdat, soos hy gesê het, dit die tyd is wanneer die skelms die meeste doenig is.”

Sy beskryf Day as ʼn spontane mens wat altyd geglimlag het en altyd positief was, maak nie saak wat die lewe na sy kant toe gegooi het nie.

“Hy was ook so baie lief vir Jacqueline. Hy het haar gerespekteer en was ʼn ware heer as sy saam met hom was. Hy was regtig ʼn awesome mens. Hy gaan ʼn groot leemte in ons GPF-broederskap laat.”

Curry het Sondag omstreeks 05:00 die nuus van die paartjie se afsterwe aan verskeie GPF-groepe meegedeel en ook genoem dat hulle beplan om iets spesiaals vir hulle te doen.

“Ons wou in ʼn stoet die roete ry wat Jacques altyd gepatrolleer het. Ek het ook ʼn kruis gemaak wat ons by die toneel wou gaan oprig.” Die nuus daarvan het soos ʼn veldbrand onder die gemeenskap versprei.

“Meer as 200 voertuie van verskeie GPF’s in die omgewing het opgeruk om eer te betoon. Die stoet was in ʼn stadium langer as 4 km. Die polisie, nooddienste en verskeie gemeenskapslede het almal bygekom, gehelp met reëlings en eerbetoon. Soos wat die konvooi motors gery het, so het inwoners uit hul huise gekom en ook eer betoon. Dit was wonderlik om te sien hoeveel mense se lewe deur ʼn patrolleerder geraak word en watter verskil een persoon aan ander se lewe maak,” het sy in trane gesê. “Hierdie mense doen dit nie vir betaling nie. Hulle doen dit omdat dit vir hulle ʼn passie is. En dis wonderlik om te sien dat hulle ondersteun, waardeer en gerespekteer word.”

Day laat sy ouers en ʼn ouer broer agter. Een van sy ouer broers, Jaco, is vyf jaar gelede sowat 3 km van waar hy dood is, óók in ʼn ongeluk oorlede. “Sy gesin het elke maand getrou vars blomme by sy kruis gaan sit. Nou gaan hulle dit by twee kruise moet doen,” het Curry bygevoeg.

Roos laat haar ouers en ʼn ouer sussie agter.

Inligting oor die paartjie se onderskeie roudienste is nog nie bekend nie.

Die volgende foto’s is op Facebook geplaas:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Arno ·

Dis so tragies, maar dit maak mens skoon mismoedig om Maroelamedia te lees. Elke liewe ongeluk word gewys, met (soms) grusame foto’s van die ongelukstoneel. Is die doel om ons bewus te maak van die slagting op die paaie of bloot vir sensasie? As dit bewusmaking is, wat help dit dan?

Ek vind Maroelamedia se nuus en kommentaar relevant en insiggewend, maar ek voel dat sekere dinge eerder nie hier moet verskyn nie.

Willy ·

Dit is baie tragies. Sterkte aan die naasbestaandes en familie.

Theresa ·

Ai dis so tragies. Mens kan ook niks doen nie. Jy voel so magteloos al voel dit jy wil berge versit. Sulke pragtige jongmense. Sterkte aan die wat agterbly…………

tina ·

Arno..ek is jammer as jy so voel en dit is hartseer en ‘n mens voel gegrief as jy van so ‘n slegte gebeurtenis hoor maar persoonlik dink ek nie dat Maroela Media enige agenda het as net om te berig hoe,waar en wanneer gebeurtenisse plaasvind..volledig sou ek se en glad nie grafies. Ek glo hul wou ook daardeur die solidariteit en meelewendheid van kennisse,geliefdes en kollegas van die slagoffers, betoon. Toestande in die land en oor die wereld het ‘n invloed op ‘n mens se gemoed en daarom dalk dat jy voel soos jy voel..teverstane maar onregverdig teenoor Maroela media..dankie vir gratis nuus en ons op hoogte bring van goeie beriggewing, Maroela media.Waardeer julle.

Leonie ·

Dis familie van ons en is baie hartseer. Sterkte vir albei se ouers en Rus In Vrede Jacques en Jacqi! Mooi berig. Dankie Maroela Media.

SI ·

Al ons simpatie met die naasbestaandes … dis so tragies! Arno …. moenie die berigte lees as jy weet dit gaan jou ontstel nie. Ek maak ook sekere van die berigte nie oop nie, bloot vir daardie rede. Maroela Media berig volledig en daarom voel ek dat die keuse steeds by die leser le.

Ronel ·

Ons ken die mensie ook persoonlik, was hul bure vir 5 jaar, hulle was die mees opregte mensie wat ons geken het. Ons harte was gebreuk met Jaco se afsterwe en gaan nou weer wees met Jaques en Jacqi…. Rus in vrede pragtige mensies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.