Motor ploeg in skoolmuur; leerders beseer

Foto verskaf aan Maroela Media

Twee leerders van ʼn laerskool in Pretoria is Donderdag inderhaas na ʼn hospitaal geneem, nadat ʼn motor in die skool se muur vasgejaag en die muur omgeval het.

Die leerders en ʼn ouer van La Montagne Primary School is beseer toe ʼn motor omstreeks 07:20 teen die muur langs die ingang van die skool vasgejaag het. Die muur het op hulle omgeval.

“Die ouers van die kinders wat beseer is, is onmiddellik ingelig en die kinders is na die hospitaal geneem,” het die skool Donderdag in ʼn verklaring op hul webtuiste gesê. “ʼn Ouer, wat onbaatsugtig voor die kinders ingespring het, is ook beseer en ontvang mediese behandeling.”

Nog ʼn ouer wat op die toneel was, sê die bestuurder het beheer oor die motor verloor en oor die sypaadjie en in die muur vasgery. Die ouer wou anoniem bly. Volgens hom is een van die leerders ernstig beseer.

Die skool sê hulle hou die situasie fyn dop en hou die beseerde leerders en onderwysers in hul gebede.

“Alle leerders wat hierdeur geraak is of die voorval aanskou het, ontvang berading,” lui die verklaring. “Ons versoek weereens dat ouers versigtig en geduldig sal wees wanneer hulle hul kinders by die skool aflaai. Ons het al verskeie kere gesien dat ouers baie ongeduldig raak met mekaar en met voetgangers wat die pad oorsteek. Hoewel dit nie die geval was vanoggend nie, kan ons nie voortgaan om ons kinders se lewens so in gevaar te stel nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leonie

Genade!! Hoop die kinders en die ouer gaan ok wees. As dit die Kia is soos op die foto hier bo het hy dan nie eers skade aan nie of het hy net die muur geraak en toe val hy om?

Dries

Lyk my dit is glad nie meer veilig om skool toe te gaan nie.

NetM

Ek sien dit elke dag! Jong onder 30 millinial poppies wat dink die pad behoort aan hulle. Ou oumas wat dink die pad behoort aan hulle en hulle ouderdom regverdig hulle om te ry soos hulle wil. En elke week smeek en soebat die hoof……..