Motor slaan om toe dwelmverdagtes wegjaag

Die voertuig wat omgeslaan het. (Foto: SAPD)

ʼn Dwelmverdagte is Donderdag in hegtenis geneem nadat hy tydens ʼn jaagtog met die polisie beheer oor sy voertuig verloor en dit omgeslaan het.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het plaasgevind toe beamptes van die KwaZulu-Natalse dwelm- en vuurwapentaakspan gister ʼn huis in Margate dopgehou het waar hulle vermoed het dwelms gesmous word. Die beamptes het gesien hoe ʼn voertuig met twee insittendes die perseel verlaat en het probeer om die voertuig voor te keer.

“Die verdagtes het geweier om stil te hou en het probeer om die beamptes van die pad af te druk. Die polisie het hulle agternagesit en op Shepstoneweg het die bestuurder [van die verdagtes se motor] beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan,” sê Naicker.

Beamptes was blitsvinnig by die motor en het albei insittendes deursoek. Vyf stukke rotskokaïen (rock cocaine) ter waarde van R15 000 is in die passasier se besit gevind.

Die dwelms en bottels waarop daar beslag gelê is. (Foto: SAPD)

“Die passasier is in hegtenis geneem op aanklag van dwelmbesit, terwyl die bestuurder in hegtenis geneem is op aanklagte van poging tot moord, en roekelose en nalatige bestuur. Hulle sal binnekort in die Ramsgate-landdroshof verskyn,” het Naicker gesê.

Die beamptes is gevolglik na ʼn huis op Humphriesweg in Margate om die perseel te deursoek. Daar het hulle op 44 stukke rotskokaïen, 2 g kokaïenpoeier en vier bottels met tekens van kokaïen beslag gelê.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes gelukgewens met hul dapperheid om hul lewens op die spel te plaas om die twee verdagtes in hegtenis te neem. “Hierdie beamptes moet geloof word vir hul toewyding om dwelms in ons gemeenskappe uit te roei,” het Jula gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Griet ·

Roei die dwelmsmouse uit! Hulle saai verwoesting!! Sluit toe en gooi die sleutels baie ver weg.

Frikkie Geld en huis ·

Natal se polisie lyk my altyd meer op en wakker as die beamptes in ander provinsies. Hul skiet ook meer akkuraat.

Abe ·

Francois Laubscher,
Iemand wat enige dwelm afmaak as “bietjie nose candy” het geen idee waarvan hy praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.