’n Man is Vrydag beseer nadat sy motor van ’n klein krans af gerol het in Kampsbaai, Kaapstad.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die motor het op die rotse onder Victoriaweg beland nadat dit die pad verlaat het.
Meiring het gesê paramedici van ER24, reddingswerkers van die metro en Life Healthcare was op die toneel.
Volgens Meiring was die man, glo in sy 40’s, in die motor vasgekeer.
Die reddingsoperasie het sowat 45 minute geduur waarna die man na die New Somerset-hospitaal vervoer is vir mediese behandeling.
Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.