Motor van vermiste Kaapse onderwyser gevind

Dean Dempsey (24). Foto: Verskaf

Dean Dempsey (24). Foto: Verskaf

Die motor van Dean Dempsey, ʼn 24-jarige onderwyser van Malmesbury in die Wes-Kaap wat oor die naweek spoorloos verdwyn het, is verlate in die Oos-Kaap opgespoor.

Maroela Media het Donderdagoggend verneem die polisie fokus nou die ondersoek onder meer in die Stormsrivier-omgewing.

ʼn Soektog is van stapel gestuur na Dempsey, ʼn nuutaangestelde onderwyser aan Hoërskool Swartland, nadat hy Vrydag die koshuis waar hy inwoon, verlaat het.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste persone op te spoor, het Woensdag aan Maroela Media gesê Dempsey het aan die koshuisvader genoem dat hy ʼn vriend in Bloubergstrand gaan besoek. Die skool het ʼn vermiste-persone-saak aanhangig gemaak.

Daar is aanvanklik berig dat Dempsey Vrydag die laaste keer by die skool gesien is. Sy vriend, Gerhard Willemse, het intussen aan Maroela Media bevestig dat Dempsey Vrydag wel omstreeks 17:00 by hom opgedaag het en dat hy hom die laaste keer gesien het toe Dempsey Saterdagoggend vroeg sou terugry Malmesbury toe om vir Maandag se klasse voor te berei.

Daar word ook verneem dat sy koshuiskamer êrens oor die naweek glo ontruim is. Willemse het gesê dit was vir hom vreemd omdat Dempsey glad nie aan hom gemeld het dat hy die koshuis wil verlaat nie en opgewonde geklink het oor sy nuwe werk by die skool.

Willemse het gesê Dempsey se WhatsApp-program het Saterdag en Sondag gewys hy is aanlyn.

Dempsey het familie in Gauteng en sy vriendin woon in die Oos-Kaap en hulle het glo nog nie van hom gehoor nie.

Die ondersoek duur voort.

Rechner het ʼn beroep op mense gedoen om pamflette met inligting oor Dempsey se verdwyning op sosiale media te versprei, in die hoop dat iemand hom sal herken.

Enigiemand met inligting oor waar hy hom moontlik kan bevind kan die Malmesbury-polisie by 022 482 7500, konst. Henry du Rand by 071 604 8379 of die Pink Ladies by 072 214 7439 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Gina ·

Die storie het n storie. Mag dit net wees dat hy veilig iewers is, die misdaad is hoog!!

Jo ·

As iemand sy motor gewaar? Het iemand ‘n idee watse motor? Fabrikaat, kleur? Hoe werk die berigskrywer se kop? Die berig meld ook dat die motor verlate gevind is . Funny. Het die motor intussen weer verdwyn. Proeflees iemand die beriggewing?

Boesman ·

Hoekom alles alewig kritiseer? As jy kan beter doen, hoekom gaan werk jy dan nie by Maroela Media as die proef leser nie? Ek is seker hulle sal nie kan wag om jou aan te stel nie. Krisis.

Paul ·

Daar is niks daarmee fout om te sê dat die motor verlate gevind is nie. Dit beteken die motor is gevind, maar daar was niemand by die motor nie.
Duidelik soos daglig.
Nêrens word gesê of geïmpliseer dat die motor intussen weer verdwyn het nie – waar lees jy dit?

Sune van Heerden ·

Dagsê Jo

Dankie vir jou kommentaar. Die motor het nie verdwyn nadat dit verlate gevind is nie. Moontlik het jy dalk net van die inligting verkeerd gelees? Die laaste paragraaf versoek persone, wat weet waar Dean homself bevind, om met die polisie in verbinding te tree.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

jacques ·

Jy klink vir my soos n sekere tiepe mense wat die land regeer kry alles verniet en kla dan daaroor.Dankie maroela vir wat julle doen.

Gideon ·

Jo, ek kla ook as dit nodig is, maar ek dink jy moet die berig weer mooi deurlees! Die joernalis het dit duidelik gestel, wat gebeur het!!

Dave ·

Jo, dit is nie moeite om te lees nie. Doen dit reg al moet jy dit twee keer doen. En vra iemand wat weet hoe om hierdie dinge te doen, om jou kommentare te proeflees eer jy dit pos. Niemand het jou of enige iemand anders gevra om die kar te soek nie. Dit is gevind! Proeflees Jo, proeflees. Laat iemand eers jou kommentare proeflees eer jy dit stuur.

Francis LInstrom ·

As dit waar is dat sy kamer ontruim is, wonder ek of daar onder die Stormsrivierbrug gesoek is, as sy motor in daardie omgewing gevind is. Sterkte aan sy familie. Ons hoop hy word spoedig gevind.

Francis LInstrom ·

As dit waar is dat sy kamer ontruim is, wonder ek of daar onder die Stormsrivierbrug gesoek is, as sy motor in daardie omgewing gevind is. Sterkte aan sy familie. Ons hoop hy word spoedig gevind.

Ashleigh ·

Hy het ‘n familie – ma, pa en ‘n ouer boetie. Ons bly al vir jare reg oorkant hom en sy gesin. Hy is ‘n goeie vriend van my. Ek bid vir sy familie, en dat hy veilig gevind sal word.

Linél ·

Hy het ‘n wonderlike, normale familie en baie vriende, wat almal baie bekommerd is oor hom. Dit is baie sleg en hoop en bid almal dat hy spoedig gevind sal word.

Jo ·

Ek neem aan Maroela is ‘n winsgewende besigheid. Ek neem aan enige besigheid doen kwaliteitsbeheer . Ek neem ook aan dat enige suksesvolle besigheid met net die beste diens of produk tevrede is. Maroela, proeflees asb julle berigte om julle goeie beeld verder uit te bou.

Boesman ·

Maroela is ‘n Solidariteit inisiatief.

“Maroela Media is deel van die Solidariteit Beweging. Bepalings en voorwaardes geld. © 2015 Maroela Media.”

Lianca ·

Ek voel Maroela Media lewer ‘n puik diens. Gaan soek liewer fout met iets/iemand anders.

CHRISTA ·

Jo, het jy die menopause? Gaan lê tot die gevoel oorgaan of vra jou dokter vir medikasie. Almal is bekommerd oor die man se veiligheid, maar jy het ‘n geween en gekners van tande oor Maroela en hoe hulle oor die gebeure berig!

Dave ·

Laat ek dit maar weer sê want jy lees steeds net wat jyself skryf. Dit is nie moeite om te lees nie. Doen dit reg Jo al moet jy dit twee keer doen. Hou jou wysvinger daar waar jy skryf en spreek die woorde hard uit. En vra dan iemand om jou kommentare te proeflees eer jy dit pos. Niemand het jou of enige iemand anders gevra om die kar te soek nie. Dit is gevind! Proeflees Jo, proeflees. Laat iemand eers jou kommentare proeflees eer jy dit stuur.

Karin ·

Baie sterkte vir Dean se familie, vriende, kollegas en skoolkinders. Ons dink aan hul almal.

KOWIE ·

AS MAROELAMEDIA NIE SO PUIK DIENS GELEWER HET NIE
SOU ONS IN NABIBIA NIE VAN AL DIE MOORDE EN ALS IN
SA. GEWEET HET NIE . WANT DIE NUUS OP TV KANALE SE
NIE REGTIG WAT GAAN AAN IN DIE LAND NIE .

DANKIE MAROELAMEDIA VIR AL JUL HARDE WERK
OM ONS OP HOOGTE TE HOU.

CHRISTA ·

Ons kan net tot ons HERE bid vir Dean se veiligheid en ook sy familie in ons gebede opdra sodat hulle krag en bystand van ons HERE sal ontvang tydens hierdie krisistyd.

Henriette ·

Baie sterkte aan elkeen wat na aan die man is ♡ ons bid en glo dat hy veilig en spoedig gevind sal word

Petra ·

Mense bid eerder vir sy familie en ookvir hom. Pragtige mense en ek weet hulle is stukkend oor Dean se verdwyning, los die modder gooiery, in tye van krisisse hetn mens nienog verdere negatiewe kommentaar oor strooi nodig nie. Hou dit dan vir jouself. Mike, Iona en Michael ons bid vir julle en dra julle op aan ons Hemelse Vader. Sy wil sal geskied. Sterkte

Elzette ·

Mike, Iona en Michael… Woorde ontgaan my, maar weet ons almal is hier om te help al hetsy net gebed.

Rieks ·

Ai julle – dit is so jammer van die mense wat so verdwyn en ek is slegs 2 weke gelede deur dieselfde hel toe my suster verdwyn het. Gelukkig het ons so ‘n goeie kommunikasie stelsel in ons familie dat sy later opgespoor is. Sommige mense steek dinge so goed weg en het soms net nodig om dinge in perspektief te sit en oor hulle toekoms te gaan besin. Hierdie dinge word gedoen sonder dat hulle dink hoe dit familie en vriende affekteer :-( en soms word daar so lank gesoek voordat daar antwoorde is. Hoop hulle vind hom gou en dat daar ook berusting by hierdie gesin sal wees.

Ek moet bysê: – ek het so ‘n droewige week agter die rug en hierdie kommentare het my dag so opgehelder dat ek seker ‘n lekker naweek sal geniet. :-)

Baie dankie vir Maroela Media wat ons so op hoogte hou van alles wat in SA gebeur – ons weet soms nie van die helfde van die goeie of slegte goed wat in on land gebeur nie, want ons nuuskanale is nie meer so dat ons op hoogte gehou word van wat in ons land aangaan nie. Hulle sal veel eerder van oorle-oupa Bob nuus lewer …

carol every ·

Onthou dat julle al die nuus in Maroela Media GRATIS kry – hou op om so puntenerig te wees!
As jy subskrippsie fooie betaal, ja dan kan jy kla!!!!!

anon ·

more maroela wil graag weet of daar al enige nuus is oor di vermiste man

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.