Motoradvertensie-moord: ‘Dit mag nie sy menswees oorskadu nie’

Twan Relou en Donett Havenga. Foto: Facebook

Twan Relou en Donett Havenga. Foto: Facebook

“Ons liefde was ʼn sprokiesverhaal en almal om ons kon dit sien. Ons was net so gelukkig en het so uitgesien na alles wat vanjaar voorlê. Alles was net wonderlik. En nou moet ek ʼn begrafnis reël in plaas van ʼn troue.”

Só het Donett Havenga (27) gesê nadat haar verloofde, Twan Relou (28), Woensdag doodgeskiet is nadat hy vermoedelik in ʼn lokval gelei is toe hy op ʼn advertensie vir ʼn tweedehandse motor gereageer het.

Relou, ʼn inwoner van Kroondal, net buite Rustenburg in Noordwes, het sy eie onderneming besit wat diesel versprei. Maroela Media het vroeër berig Relou en ʼn vriend het afgespreek om die verkoper van ʼn motor, wat op ʼn webtuiste adverteer is, in Alberton te ontmoet. Nadat hulle ʼn ruk lank gewag het, het die verkoper glo gebel en gevra dat hulle elders ontmoet. By hul aankoms by dié plek, ʼn ongemerkte pad naby die R550, het die verdagtes op die twee mans losgebrand. Relou is doodgeskiet en sy vriend is gewond.

Volgens Havenga is sy en Relou se familie heeltemal verslae oor wat gebeur het, omdat Relou homself nooit in ʼn ooglopend gevaarlike situasie sou begewe nie. “Alles het so reg gelyk. Hy het lank met hierdie koper oor die voertuig gepraat en selfs vir afskrifte van die voertuig se diensrekord gevra. Daar was niks vreemds of verdag aan die advertensie wat op twee verskillende webtuistes geadverteer is nie. Twan was ʼn geleerde en slim man – hy sou nie sommer vir iets dom val nie,” het Havenga gesê.

Twan Relou en Donett Havenga. Foto: Facebook

Twan Relou en Donett Havenga. Foto: Facebook

Sy sê sy het kort voor sy moord met Relou gepraat en hom gewaarsku om veilig te wees en weg te ry indien iets vir hom verdag lyk. “Sy vriend het later vir my vertel toe hulle stilhou, was daar nie eens kans om vir mekaar te kyk en ʼn woord te sê nie. Hulle het letterlik net stilgehou, toe klap die skote.”

Havenga sê sy vermoed die verdagtes het die mans in die lokval gelei met die doel om hul bakkie te steel, maar het van plan verander toe hulle sien Relou se bakkie het sy onderneming se naam en handelsmerk op die kant van die voertuig. “Ek dink hulle het seker gesien hulle gaan nie ver met hierdie bakkie kom nie en toe besluit om eerder net te steel wat hulle kan.” Relou se selfoon en ʼn iPad is gesteel.

Volgens Havenga kon Relou se vriend daarin slaag om na ʼn nabygeleë huis te hardloop om hulp te soek en het hy haar dadelik gebel om te vra dat sy Relou se maatskappy bel en vra dat hulle sy bakkie se opsporingstoestel aktiveer. Die vriend het in daardie stadium gedink die verdagtes het wel die bakkie gesteel.

“Toe hy my bel en sê Twan is geskiet, het ek dit nie geglo nie. Ek het vir hom gesê dit is sommer ʼn simpel grap. Ek het Twan se selfoon gebel en iemand het geantwoord, maar nie gepraat nie. Ek neem aan dit was seker een van die rowers.”

Twan Relou en Donett Havenga het op 23 Desember 2016 verloof geraak. Hulle sou in Oktober vanjaar getrou het. Foto: Facebook

Twan Relou en Donett Havenga het op 23 Desember 2016 verloof geraak. Hulle sou in Oktober vanjaar getrou het. Foto: Facebook

Havenga vertel hartseer sy en Relou het op 23 Desember verlede jaar verloof geraak. Hulle het reeds ʼn troudatum in Oktober bepaal en het reeds met fotograwe en ander diensverskaffers oor die troue begin praat. “Dit was veronderstel om die wonderlikste tyd van ons lewens te wees. Ons moes nou ons troue beplan, ek moet nie ʼn begrafnis reël nie,” het sy in trane gesê.

“Die hele ding is net so groot skok… maar miskien wys dit ook die soort mens wat Twan was. Hy het altyd in die goedheid van ander mense geglo. As meer mense in die wêreld soos hy was, sou dinge baie anders gewees het. Hy het die mooiste hart gehad en was so opreg in alles wat hy gedoen het en hoe hy met mense gepraat het. ʼn Pragtige mens in die fleur van sy lewe. Dit voel asof die lelik van wat gebeur het, nou sy menswees oorskadu en dit mag nie gebeur nie. Hy moet onthou word vir die mooi mens wat hy was, want hy was net die wonderlikste, liefdevolste persoon wat jy ooit kon ken. En hy het voluit gelewe, elke dag.”

Relou word oorleef deur sy suster, ma en ouma. ʼn Gedenkdiens sal Woensdag in Kroondal gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Doofstom ·

Kan nie glo wat ek hoor nie. N jong man word koelbloedig vermoor. En nogsteeds bly dit maar okay….. Ons voortrekker voorvaders sou stik

Afrikaner ·

Baie hartseer en so onnodig. My innige simpatie met almal wat hom geken het. Mag die moordenaars binnekort permanent van die samelewing verwyder word.

jana ·

Baie sťerkte aan julle. Dis so hartseer dat sommige mense deesdae meer respek het vir geld as vir lewe. Die Enigste Troos is God is regverdig – los dit vir Hom.

Tinktinkie ·

Jana, as God so regverdig is, waarom het Hy die moord toegelaat?
Innige simpatie aan almal wat deur d hartseer geraak word.

Tinktinkie ·

Jana, as God so regverdig is, waarom het Hy die moord toegelaat?
Innige simpatie aan almal wat deur d hartseer geraak word.

Kobus 4e ·

Tintinkie, omdat ons memse die houding het wat jy het. Ek weet nie of jy in die drie enige God glo nie, maar jou houding verytel my dat jy nie glo nie. Ons dink ons kan sonder God klaarkom, verban hom uit ons skole, uit dieregering, vervang Hom met die voorvader geeste, herstel op die Sabbatdag van die vorige dag se gesuip, en so kan ek aan gaan. Verwag ons regtig dat Hy ons moet beskerm. Ek ken die jong man gladnie en se nie dat sy lewe verkeerd was nie, inteendeel, wat ek van hom lees was hy n voorbeeld, as almal maar net soos hy was.
Moet net NOOIT weer die goddelose stelling maak wat jy op die forum gemaak het nie

SNEL ·

Wanneer sal mense tog besef om die Here te dien skakel nie al die drama in jou lewe uit nie, maar jy hanteer dit anders en jy maak dit daardeur. Slegte goed kan met gelowiges en ongelowiges gebeur, en in teendeel, as jy die Here dien is die vyand uit daarop om dinge oor jou pad te sit dat jy verswak of selfs jou geloof los, maar staan sterk en hou vas, ons God lewe en is n werklikheid en Hy dra ons deur alles. Ons lewe in n gebroke wêreld en Adam en Eva het deure oopgemaak vir die vyand en sy werke, maar prys die Heer Hy gee mens krag deur alles.

Jana ·

Liewe Tinktinkie, ek het ook lank met dieselfde vraag gewroeg, in die bybel het sulke goed met baie regverdiges gebeur, (dink net aan Job) ek het nie al die antwoorde nie – maar wat ek weet is satan haat liefde, die enigste Een wat jou seer vir jou mooi kan maak is God, want Hy is liefde. Ek moes leer om ophou om net die skuld op God te pak en met Hom praat oor hoe ek voel. Rom 12 vers 19 Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. Genade en vrede vir jou x

Esme ·

Ai donett.. so jammer vir jou verlies, en vir sy familie xxx baie sterkte

Name and shame ·

You must expose the website where the ad was advertised ! Makes me think twice about online shopping

Chris Ws ·

Ons innige meegevoel met sy familie ,vriende en sy verloofde.Dis ‘n geweldige slag vir almal en ons wens julle sterkte toe in hierdie tyd van rou.
Wat die lewe my geleer het in my 63 jaar is jy vetrou NIEMAND nie.Ons woon op ‘n plaas en hier vertrou ons ook net mooi niemand om ons nie-almal probeer almal indoen op een of ander manier!

Ruida Sitherland ·

Dit het met my seun ook gebeur en n ander vriend v ons. Hulle het deur die Heer se genade met hul lewens daar afgekom. Hul word met wolhaarstories na ander plekke gelok en beroof, ek dink hierdie blogs moet verwyder word! Net n skuiwergat vir rowers/moordenaars wat geen respek vir n ander se lewens of swaarbekomde lewesnoodsaaklikhede nie. Hul kom baie opreg en eerlik voor….fyn beplanning. Kom nou al twee jaar met sulke oneerlikheid weg!

Christine ·

Donette, ek is so jammer dat jou hartjie stukkend is, ek stuur ‘n gebedjie op dat Hy jou deur hierdie tyd sal dra. En ja, hy is weg en moet onthou word vir wie hy was en nie wat met him gebeur het nie. Almal wat agterbly is stukkend en ek sou graag ‘n pleistertjie op hul harte plak. Donette, staan weer op hoor. Xx

Sê maar net ·

Tinktinkie!!! My God is die weg, DIE LEWE en die waarheid. Hy bring LEWE. Die duiwel bring dood. Dis nooit God se WIL dat iemand doodgaan nie. Dis wel die duiwel wat dood bring. En ongelukkig lewe ons in n wêreld waar die duiwel se werke oral is. God kan nie mense se keuses vir hulle maak nie. As jou keuse is om mense dood te maak dan is dit nie God wat die skuld moet kry dat Hy dit nie gestop het nie. Die skieter het GEKIES om dit te doen.

Bessie ·

Ons huil saam. Juis omdat God so groot is, kan hy lewe gee en lewe neem. By geboorte wys Hy reeds hoe groot Hy is. God het Sy seun aan ‘n houtkruis deur moordenaars laat dood maak. Hy het tussen moordenaars gehang. Een is saam met Jesus paradys toe want Hy het Jesus om genade gepleit. Nie om te bly lewe nie. Die ander moordenaar was nie gereed nie…….. Ons moet gereed wees vir die Paradys. Sterkte en ons bid vir die familie. Bessie

Johan van Eeden ·

Kort voor Kersdag het ons ook van Bloemfontein af gery om ‘n moontlike kar the koop. Eerste koop was in Secunda waar ons oorspronklik by die Polisie stasie sou ontmoet. Ons het die kontant by ons gehad en die ander persoon het dit geweet. Ewe skielik moes plan verander en ons moes hulle ook op n ander plekke kry. Ons het onraad vermoed. Volgende dag in Honeydew met ‘n volgende verkoper ook onraad vermoed. By Polisie stasie gewag. Jy kan niemand meer vertrou nie. Jammer vir sy Familie. Dit kon ons gewees het.

Doortjie ·

Tinktinkie bid vir jou vir redding. Baie sterkte aan die familie….dra jul op in ons gebede xx

Manie ·

Hoekom is daar altyd n klipgooiery oor godsdiens wanneer so tragedie plaasvind. Moet die Afrikaner nog steeds soos die ou NP vir almal vertel hoe hy moes lewe en wat fout is in ons lewens.

Penellope Jones ·

Daar is SOVEEL moorde, aanrandings, kapings in ons land en ons woordeskat het nie meer woorde om gevoelens te beskryf nie.
Mens is doodeenvoudig net stom.

Peet J ·

Blykbaar word daar nou aan alle moontlike maniere deur die kriminele gedink om grootliks ons wittes se lewens te neem en te verwoes. Ons as indiwidue kan maar net ons spyt uitspreek en simpatiseer met die familie van die slagoffer dit help nie dat ons mekaar blameer en verwyt nie .
Die instansies, politieke partye en kerklike organisasies wat by magte is om hulle teenkanting te bewys en wat hulle kan reël d.m.v. optogte en terselfdertyd die media betrek kyk nog steeds met die een oog op die pot en die ander op die skoorsteen. Sou hierdie instansies in gebreke bly om nie die aangeleentheid sonder voorbehoud met die regering asook die de Klerk stigting op te neem nie is die witman se voortbestaan in die NSA gedoem.

Ansie Geldenhuys ·

Ek is verskriklik jammer oor hierdie persoonlike hartseer ondervinding. Dit is traumaties en ons moet net onthou dat God in beheer is.. Baie sterkte en meegevoel.

vreeslik ·

So so sinneloos….pragtige paartjie en die aaklike einde van hul liefdeslewe. Steeds word niks gedoen nie…… Baie sterkte aan jul almal en mag Vader krag gee en troos. Voel saam julle. Sterkte!

Alida ·

Vreeslik, wat verwag jy wie moet wat doen? Die duiwel is in beheer en aan hom kan ons niks doen behalwe om te bid nie.

Tinktinkie ·

Snel, Jana en Sê maar net…baie dankie vir julle wyse woorde. Met d mooi antwoorde bedaar my woede (ek het my swaer en sy 7-dogtertjie in Nov deur n ongenaakbare moordenaar in ‘n kaping verloor). Dankie dat julle nie oordeel, dreig en aanval soos Kobus 4e nie!!
Kobus 4e jy ken nie my hart en omstandighede nie tog oordeel en dreig jy dadelik…dis juis mense soos jy wat Christenskap skade doen. As Christen sou ek dieselfde deernisvolle terugvoer verwag het as Snel, Jana en Sê maar net!! Julle harte, deernis en oop-gemoed spreek vir my van ware Christene. Baie dankie!

Kobus 4e ·

Tintinkie, ek is jammer as ek dreigend oorgekom het, dit is en was nie die bedoeling nie, maar die vraag wat jy vra is die vraag wat soveel mense vra wat twyfel of nie glo nie. Soos Snel gese het sleg gebeur ook met mense wat baie naby aan Hom is, soos Job, Lot, Johannes en nog baie ander. Maar om te vra, as Hy regverdig was hoekom laat hy die dinge toe? Vir my grens dit byna aan laster.

Amanda ·

Dis so tragies, so verskriklik jammer, baie sterkte aan sy hele familie en al sy vriende, die arme jongman wat by was…al sal dit hom nie teruggee aan julle nie, hooo ek die skuldiges word gou gekry en swaar gestraf.

Christo ·

Wil net aansluit by Johan van Eden. Het ook al gebel vir voertuie dan stel hul nogal voor om mens by polisie stasie te ontmoet. Baie skelms daar buite! Sterkte aan familie!

Susan ·

Ek het geleer, nadat ek lank gestoei het met die Here na my Ma se dood, dat as jy ‘n wedergebore kind van God is, dan straf Hy dié een of persone wat Sy kind/ers skade aandoen, tensy hy/sy/hulle hulle saak met Hom reg maak. Anders voel ek baie jammer vir die persoon/ne.
Lees Obadja, dis net 1 hoofstuk, en lees die boek Edom van Michael Whittworth waar hy vertel hoe Esou se geslag van die aardbodem af gevee is omdat hulle die Babiloniërs gehelp het om Israel in ballingskap te neem. Tereg se die Bybel: “Vreeslik is dit om te val in die Hande van ‘n lewende God.”
Ek het geleer om te vergewe en selfs te bid vir die Dokter wat nagelaat om my Ma oordentelik te behandel sodat sy uiteindelik op ‘n baie moeilike manier oorlede is.
Die bg. feit het vir my vrede gebring.
Ek hoop dit help meer mense, ook vir Tinktinkie.

Susan ·

Ek het geleer, nadat ek lank gestoei het met die Here na my Ma se dood, dat as jy ‘n wedergebore kind van God is, dan straf Hy dié een of persone wat Sy kind/ers skade aandoen, tensy hy/sy/hulle hulle saak met Hom reg maak. Anders voel ek baie jammer vir die persoon/ne.
Lees Obadja, dis net 1 hoofstuk, en lees die boek Edom van Michael Whittworth waar hy vertel hoe Esou se geslag van die aardbodem af gevee is omdat hulle die Babiloniërs gehelp het om Israel in ballingskap te neem. Tereg se die Bybel: “Vreeslik is dit om te val in die Hande van ‘n lewende God.”
Ek het geleer om te vergewe en selfs te bid vir die Dokter wat nagelaat om my Ma oordentelik te behandel sodat sy uiteindelik op ‘n baie moeilike manier oorlede is.
Die bg. feit het vir my vrede gebring.
Ek hoop dit help meer mense, ook vir Tinktinkie.
Daar is ‘n God.

Tinktinkie ·

Baie baie dankie Susan. Ek dink ek is op daardie plek waar ek swaar dra aan my seer en woede. Elke bietjie inligting gaan help dat ek ook kom waar jy is…..vrede, rustigheid en aanvaarding straal uit jou bdskp. Waardeer dit baie.

Corrie Smit ·

More almal.Ek en my seun is ook in n lokval gely die 13 Nov 2016.Ek is noodlottig gewond en het 5 weke in ICU deur gebring.n Stuk van my kolon,long en lewer moes verwyder word.My seun het wonderbaarlik niks oor gekom nie.Sy voertuig is vol gate geskiet.Die SAP het eers 11 mnde daarna n verklaring van my kom vat.Almal praat van die swart mense wat skelms is maar hierdie was n blanke man met baie mooi praatjies.Wees gewaarsku.jy kan niemand vertou nie.Nie eers die SAP nie.Sterkte ek weet waar deur jy moet gaan.Ek dank die Vader vir nog n kans.Dankie ook aan my diebare vrou,familie en vriende vir hulle gebede en bystand.Die skelm is nog op vrye voet?

Jan Smit ·

Goeie More, ek is Corrie Smit se seun en verstaan die trauma wardeer julle moet gaan. Sterkte deur hierdie moeilikke tyd en bid,glo, hoop en vertrou dat die krimmenele sewe keer terug sal kry wat hul verdien……” be no longer a slave of fear ” be a child of God “.

Wees vesigtig ook in die area van Silverton/Silvertondale Pretoria. Indien nodig kan meer inligting en saak nommer verskaf word.

Eunice ·

Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Dieselfde het ons ook oorgekom, My man het sy motor op OLX geplaas, hy wou dit verkoop, n man het ons gekontak en my man het self lank met hom oor die foon gesels. My man moes hom ontmoet in Ventersdorp. Ons is ook vanaf Rustenurg. Hy sou die motor net daar vat, Kontant vir my man gee en my man weer huistoe bring. Ek het vir my man gesê dat dit te goed klink om waar te wees. Ons het nie die motor deur gevat nie. Ek is vreeslik jammer. Asb mense wees op julle hoede vir die skurke. Julle is in ons gebede en alle sterkte.

Helene ·

Mense wat sulke dinge doen lewe baie ver van God. Ons vra hoekom het God dit toe gelaat maar die innerlike gees van sulke mense is nie met God se Gees verbind nie. Hulle lewe in ontkenning en weet nie van n liefdevolle Vader se Genade nie. Hul lewenswyses is dierlik en sonder die beskerming van die Heilige Gees. Daarom het God dit nie toegelaat nie, nee, hul leefwyses en begeertes het oorgeneem. Dis NIE God se skuld NIE!!!!! Bid vir Tintinkie dat sy hierdie wonderlike God van ons in al Sy lieflikheid sal ontmoet. Ek veroordeel jou nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.