Motorbedryf wil ook weer sake doen

Foto: Pixabay

Die motorbedryf dra 6,9% by tot die Suid-Afrikaanse BBP en in 2018 het die bedryf R503 miljard tot die plaaslike ekonomie bygedra. ʼn Allemintige 30,1% van die land se vervaardigingsuitset kom uit die motorbedryf.

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa), die Retail Motor Industry (RMI) en die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada) glo dat dit van kardinale belang is om die motorbedryf weer op 4 Mei aan die gang te begin kry. Tans word beplan dat dele van die motorbedryf eers op vlakke drie en twee weer mag begin werk.

Daar is twee probleme hiermee. Die een probleem is die gebrek aan toegang tot dienste en herstelwerk van motors. Waar dit vir mense noodsaaklik is om te ry, sal hulle met stukkende voertuie moet ry, en dit stel ander padgebruikers in gevaar.

Die groter probleem is dat daar ongeveer 1 600 motorhandelaars in Suid-Afrika is. Al die handelaars staan nou doodstil en 60 000 direkte werknemers se poste is in gedrang. ʼn Groot gedeelte van die 60 000 mense is verkoopsmense wat grotendeels op kommissie staatmaak vir hul inkomste en nou nie die geleentheid het om te verkoop nie.

Ja, die gevaar bly staan dat die publiek te vroeg na motorhandelaars gelok kan word indien hulle oop is, maar vir ander is dit moontlik baie dringend om so gou as moontlik ʼn motor aan te skaf. Motorhandelaars self het nie probleme met sosiale distansiëring nie, selfs in die werkswinkels werk die meeste mense meer as ses voet uitmekaar.

Sodra ʼn mens die gekoppelde ekonomie in ag neem, begin dinge skrikwekkend raak. Ongeveer 1 miljoen mense is afhanklik van die motorbedryf vir hul inkomste as ʼn mens dienste soos banke, versekering, bande, paneelkloppers, onderdele en dies meer in ag neem.

Die uitvoermark is tans R201,7 miljard sterk. Dit is 15,5% van Suid-Afrika se algehele uitvoere. In 2019 is 387 125 voertuie ter waarde van R148 miljard en onderdele ter waarde van R53,7 miljard uit Suid-Afrika na 151 lande uitgevoer.

Die motorbedryf is ʼn belangrike komponent om ons ekonomie aan die lewe te hou. As ʼn mens die verreikende gevolge van insolvensies in dié bedryf in ag neem, is dit uiters belangrik om hulle die kans te gee om so gou moontlik weer aan die werk te spring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Die motorbedryf is die gans wat die goue eiers le.15% BTW op ‘n middelslag motor van R250,000 is gelyk aan R37,500.00. Dan kom registrasie,nommerplate,versekering,opsporings toestelle,by-behore,addisionele versekerings ens by.Daarna is dit brandstof,onderhoud ens.Ek is verbaas dat die regering nie kyk na die praktyke wat inkomste genereer nie.Ek glo motorhandelaars kan hierdie stelling van my aanvul met werklike syfers. Ek is deeglik bewus van inset/uitset belasting,maar die regering is verseker aan die ontvangkant hier

Brendon Staniforth ·

Dagsê Kobus en Michael 1

Dankie vir jul kommentaar. Die regering se belastinginkomste is baie hoër as wat meeste mense dink. Daar is vier belasting komponente op ‘n kar se verkoopsprys.

Invoerbelasing
Ad Velorem-belasting
BTW
CO2-belasting

Altesaam is dié belasting in die omgewing van 42%. Die Ad Velorem belasting is op ‘n glyskaal. Hoe duurder die produk, hoe hoër word die persentasie. Dit sluit die lisensiegelde en belasting op brandstof uit.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Michael 1 ·

Die motor verkope industrie kan oopmaak, hulle het al die tegnologie om dit te kan doen ,voor ek n nuwe kar koop gaan ek in elkgeval op die motorhandelaars se web tuiste en kry all my inligting daar voor ek besluit.

Penelope ·

Maak al die besighede oop en laat d bestuur sorg dat die reels om die dra van maskers ens gehandhaf word, as iemand siek is stuur hom huistoe en laat d mense kom om almal te toets en neem so besluite oor die weg vorentoe vir daai besighede. Ons gaan almal een of ander tyd covid opdoen ons hospitale is gereed,ons weet wat om te doen,maar dit help nie d ekonomie kom tot stilstand nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.