Motorbeslagleggingsindikaat in Mpumalanga oopgevlek

motorsleutels

(Argieffoto)

Die Valke het drie verdagtes wat glo die baasbreine agter ʼn beweerde motorbeslagleggingsindikaat is, in Mpumalanga in hegtenis geneem. Die verdagtes het na bewering namens die bank motoreienaars met agterstallige paaiemente se motors kom “terugvat”.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê die verdagtes, Billy Ndlovu (54), Clarance Makhubela (34) en Lawrence Munyai (33) is Dinsdag vasgetrek. Hulle was in besit van voertuie waarop hulle in Acornhoek in Mpumalanga “beslag gelê” het.

Sekgotodi sê die verdagtes het, onder leiding van Ndlovu, glo motoreienaars geteiken wat agterstallig was met hul motorpaaiemente. Hulle het hulself na bewering voorgedoen as beamptes van die bank wat op dié eienaars se motors beslag kom lê het.

Een van die motoreienaars het onraad vermoed toe die verdagtes glo op haar motors kom beslag lê het net nadat sy ʼn betalingooreenkoms met die bank getref het. Sy het die saak by die polisie aangemeld.

“Die motoreienaar het weer die bank genader en verneem dat sy ʼn slagoffer van ʼn motorbeslagleggingsindikaat was,” sê Sekgotodi.

Die Valke het Dinsdag inligting ontvang dat die verdagtes na bewering die voertuie teen ʼn laer markwaarde verkoop. Dit het daartoe gelei dat die verdagtes dieselfde dag nog in hegtenis geneem is.

Die beskuldigdes het Donderdag in die Delmas-landdroshof in Mpumalanga verskyn. Makhubela en Munyai is elk borgtog van R5 000 toegestaan. Ndlovu word in aanhouding gehou tot 23 Julie wanneer hy weer in die hof sal verskyn.

Die saak is sedertdien na die Valke se ondersoekspan in Mpumalanga verwys vir verdere ondersoek.

Die polisie in Mpumalanga doen ʼn beroep op lede van die gemeenskap wie se voertuie onlangs deur die verdagtes “teruggevat is” om hul finansiële instellings te kontak vir bevestiging, en indien nodig om sake by hul naaste polisiestasie te open.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
NEO

Interessant om te verneem hoe die sindikaat weer watter motor eienaars is agter op hulle paaiemente. Sekerlik is dit ‘n werknemer in die bank wat die inligting deurgee en ‘n kickback kry.

Duwweltjie

Kyk, dat die manne nie innoverend is nie kan niemand hulle van beskuldig nie!