Drie boewe het Woensdagmiddag hul rieme styfgeloop toe hulle ʼn motor by die Menlyn Retail Park-winkelsentrum in Pretoria probeer steel het.
Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die Fidelity ADT het reaksiebeamptes van die veiligheidsmaatskappy net voor 12:00 die gepoogde motordiefstal in die winkelsentrum se parkeerarea gewaar. Die verdagtes het in ʼn ander motor gevlug en die beamptes het hulle agterna gesit. Die verdagtes is op die hoek van Garsfontein- en Loisweg aangekeer.
“Een verdagte is geskiet en twee is in hegtenis geneem. Paramedici het die gewonde verdagte op die toneel behandel,” lui die verklaring.
“Die verdagtes en hul wegkommotor is aan die polisie oorhandig.”
Volgens die veiligheidsmaatskappy het die beamptes die voertuig deursoek en valse nommerplate, ʼn warsender en ander gereedskap wat gebruik word vir motordiefstal, gevind.
Charnel Hattingh, hoof van bemarking en kommunikasie van Fidelity ADT, het die beamptes geloof vir hul vinnige optrede om die verdagtes vas te trek.
“Die inhegtenisneming beklemtoon weer eens die belangrikheid van sekuriteit. Om ʼn beampte te laat patrolleer maak ʼn verskil,” sê Hattingh.
Maroela Media het navraag aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
SALUUT MANNE !!!!!
Goeie Werk !
Gee daai manne ‘n Bells!
Absoluut puik. Dankie.
Goeie werk, hoop net dat hierdie kriminele nie more weer uit is op borg nie!