Motorentoesiaste maak harte oop vir gesin ná brand huis verwoes

Twaalf familielede woon in die huis. Dit is bykans heeltemal verwoes. (Foto: Yasin Williams)

Motorklubs in Kaapstad het soos een man opgeruk om ʼn familie van Valhalla Park in Kaapstad wie se huis in ʼn brand verwoes is, te help.

Die Rudolph-gesin het met net die klere aan hul lywe ontkom nadat hulle huis in Paulusstraat op 5 Augustus afgebrand het, het Shanice Rudolph, die familie se woordvoerder, gesê.

Volgens Rudolph het haar pa op dié dag kort na sy aankoms by die huis ʼn uiltjie gaan knip toe hy ʼn brand geruik het. Hy het uit die bed opgestaan, ondersoek ingestel en gesien die agterkant van die huis is in ligte laaie.

“Hulle moes dadelik uit die huis vlug omdat die brand begin versprei het. Hulle kon niks red nie,” het Rudolph gesê.

“In die voorste gedeelte van die erf is daar ʼn Wendy-huisie wat ongeskonde is.”

Enorme skade is aan die huis aangerig waarin 12 lede van die familie, ook twee kinders van onderskeidelik nege en vyf jaar oud, woon.

Lede van verskeie motorklubs het die enjins laat brul om vir die familie huisware in te samel. (Foto: Yasin Williams)

Geroer deur die familie se lot, het Yasin Williams, stigter van die Cape German Crew-motorklub asook die Opel Cartel-motorklub, besluit om hulle enjins te laat brul vir ʼn fondsinsamelingsgeleentheid.

Klubs soos Swag CPT, Dynamic Polo Crew, Wonder Movement, Cape Town Bantamers, Toyota-eienaarsklub, Opel Turbo Crew, Bravio BM Squad en Solo Polo het ook ingespring om te help.

“Ons het ʼn familielid gekontak wat baie dankbaar was vir die hulp,” het Williams gesê.

“Danksy die poging het ons talle skenkings van kospakkies, klere, beddegoed, eetgerei en kontant gekry. Ons het selfs ʼn kontantskenking uit Johannesburg ontvang.”

Verdwaalde kospotte staan nog op die stoof. Byna al die familie se besittings is verwoes. (Foto: Yasin Williams)

Sommige van die klubs het in verbinding met die familie gebly en gaan hulle help om die huis te herbou, terwyl ʼn ander klub reeds verf hiervoor geskenk het.

Williams het gesê die oorhandiging van die skenkings is gedoen in ʼn konvooi van sowat 70 voertuie wat by die Westgate-winkelsentrum in Mitchells Plain weggetrek het. Alle Covid-19-maatreëls is volgens Williams gehoorsaam.

“Ons aankoms was oorweldigend. Die familie het buite vir ons gewag en soveel mense het uitgekom om te kom kyk wat aangaan,” het hy gesê.

“Die hoofdoel is om iets vir hulle te gee ná hulle reuseverlies. Ons hoop ons het vir hulle ʼn bietjie hoop en positiwiteit gebring.

“Ons is mal oor wat ons doen. Ons kom ook almal uit ʼn agtergrond waar ons weet hoe dit voel om niks te hê nie. Uiteindelik wou ons net die bietjie wat ons self het, met ander deel,” het Williams gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lorayne

Wat ‘n wondelike gebaar! Ek bid julle seeninge toe. . .

Adeline

Wonderlik – ek wonner nou net – kan hierdie groepe mense nie die regering en parlement vervang en oorneem nie – wat ‘n wonderlike vooruitsig van sorg en omgee sal ons nie in hierdie land as publiek ervaar onder hulle leierskap nie. ‘n Wonderlike daad van omgee en hulp verskaf is eenheid van gees en daad!!

Sandra

Dit is baie oulik van die klubs om die mense in hulle tyd van nood by te staan. Hou so aan