ʼn Gebarste pyp het moontlik veroorsaak dat ʼn teerpad in Kempton Park aan die Oosrand onder ʼn motorfietsryer meegegee en hy motorfiets en al in ʼn gat vol water beland het.
Foto’s van die reuse gat, op die hoek van Commissioner- en Monumentstraat, word sedertdien wyd op sosiale media versprei. Op die foto’s kan gesien word hoe die motorfiets heeltemal in die gat, wat gevul is met water, verdwyn het. ʼn Groep mans het die motorfiets en die man uit die gat gehelp.
Themba Gadebe, woordvoerder van die Ekurhuleni-munisipaliteit, het aan Maroela Media bevestig dat hulle bewus is van die voorval en reeds met herstelwerk begin het. “Soos ons verstaan het ʼn gebarste pyp veroorsaak dat die padoppervlak verswak het en toe gedeeltelik meegegee het toe die motorfietsryer daaroor gery het,” het hy gesê.
“Munisipale werkers is steeds op die toneel om die pad reg te maak. Ons eerste prioriteit was natuurlik om die gebarste pyp te herstel en dit is reeds gedoen. Die pad is ook amper klaar en behoort binnekort ten volle herstel te wees.”
Gadebe het gesê hy is nie bewus van enigiemand wat beserings opgedoen het weens die gat nie.
- ‘n Foto van die voorval wat op sosiale media versprei word. Foto: Facebook/Intelligence Bureau SA
- ‘n Foto van die voorval wat op sosiale media versprei word. Foto: Facebook/Intelligence Bureau SA
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
Ons HET mos water om te mors!
Toe maak hy gou-gou van daai motorfieta ‘n jetski.
Toe maak hy gou-gou van daai motorfiets ‘n jetski.
Bo en behalwe dat water, wonder ek wie nou vir die man se skade gaan betaal. Ons paaie is so besaai met sink-gate en ander gevare soos holtes onder die teer dat mens ne meer weet waar om te ry nie. Op dit betaal ons lisensie gelde, tol gelde, petrol belasting en munisipale dienste. Almal deel in die verantwoordelikheid om ons paaie veilig te hou. Nou dis onsaglike bedra geld maar die publiek sien nie die dienste of verbeteringe nie.
Utopia. Net jammer ek verdien Rande en nie Dollars nie…