Motorfietsmoord: Byl by verdagtes gekry

Chris en Rouxnet Williams. Foto: Facebook

Die polisie het onder meer op ʼn byl en ʼn Okapi-mes beslag gelê nadat hulle die drie verdagtes in verband met die moord op ʼn man van Mokopane in hegtenis geneem het.

Chris Williams (31), ʼn elektromeganikus by Anglo Platinum wat vyf maande gelede getroud is, is Maandagaand by sy huis met ʼn mes doodgesteek nadat ʼn vermeende koper, vergesel van twee makkers, kom kyk het na ʼn motorfiets wat hy geadverteer het.

Brig. Motlafela Mojapelo, Limpopo-polisiewoordvoerder, sê die drie is Dinsdagaand in hegtenis geneem op verskillende plekke om die dorpie Ramokgopa naby Mankweng in die Botlokwa-polisiegroepering, sowat 25 km wes van Polokwane.

Hy sê die polisie het op inligting gereageer. Met hul inhegtenisneming is ook beslag gelê op ʼn silwergrys Isuzu-bakkie waarmee die drie glo by Williams se huis opgedaag het en waarin ʼn inwoner glo gesien het hoe hulle na bewering ná die moord daar verbyry.

Die polisie het ʼn selfoon van een van die verdagtes gekonfiskeer en die oorledene se karsleutel en enkele kledingstukke van hom teruggekry, sê Mojapelo.

Die verdagtes, Kgabudi Ramaboya (20), Sello Donald Nkoana (31) en Ramabula Maumela (28), het Donderdag in die landdroshof op Mokopane op aanklagtes van moord en roof verskyn. Die saak is tot 24 Januarie vir hul borgtogaansoek uitgestel.

Williams se swaer, Theo Luus, sê hulle moet nog die begrafnisreëlings finaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

treurgrond ·

Ek is absoluut kwaad waar ek hier sit – wat het die drie gekry om iemand dood te maak, wat het hulle gekry – niks niks nie. Rouxnet sit sonder ‘n man en ek is so so hartseer vir haar part so hartseer. Mag julle kry wat julle verdien – maar niks gaan ooit opmaak vir iemand se verlies nie.

zelda ·

vir die eerste keer in my lewe hoop ek en bid ek
dat die 3 verdagtes dit nie maak vir hulle verhoor
mag iets uit die hemel val en geregtigheid laat geskied
Rouxnet en familie…….. ek’s so bitter bitter
dink aan julle

Leslie ·

Waar het hul van sy klere in die hande gekry? Huis was dan gesluit.

Carien ·

Leslie, hulle het die motor se sleutels gehad en heel moontlik was daar klere in die motor.

Adam ·

Ek vertrou die weersinswekkende bespiegeling sal nou gestaak word. My innige simpatie aan die oorledene se familie en welgedaan aan die SAPS.

Annamarie Olivier ·

Kan die mense wat “‘n Rot geruik het” asseblief opstaan?

Antionette ·

Nee wat Annamarie nou sal nie een van hulle enige kommentaar lewer nie, dit is mos hoe mense is oordeel vannig maar kan nooit herkenhul was verkeerd. Sterkte aan hierdie familie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.