Motorfietsongeluk eis Pta se ‘supercop’

‘Supercop’ Stoffel Holtzhausen.

Die gemeenskap van Pretoria‑Noord rou oor die dood van ao. Stoffel Holtzhausen, wat deur mense in dié gebied as Pretoria se “supercop” beskryf word.

Holtzhausen (46) is Vrydagaand omstreeks 19:30 dood nadat hy op sy motorfiets vir ʼn voetganger op die hoek van Emily Hobhouse- en Suiderstraat uitgeswenk het. Hy was op pad van ʼn projek wat skoolkinders help met inligting oor hoe om hulself te beveilig.

“Stoffel was tops as dit kom by werk en het sy alles gegee om Pretoria‑Noord veilig te hou,” het Debbie Zaayman, jarelange kollega en vriendin van Holtzhausen, aan Maroela Media gesê.

Zaayman sê paramedici het Holtzhausen op die toneel probeer bybring, maar sy beserings was te ernstig en hy is op die toneel dood verklaar.

Maroela Media het in 2016 reeds oor Stoffel se gewildheid onder lede van die gemeenskap berig: “As ons deur Pretoria-Noord ry en jy sien hom op sy motorfiets, weet ons dat hy weer op sy stukke is. Hy reik altyd ʼn helpende hand uit waar hy kan en sal selfs die verkeer reguleer. Hy is altyd bereid om met die kinders in die gemeenskap te gesels oor enigiets van dwelms tot motivering. Ons kan hom net bedank vir sy harde werk.”

Die gemeenskap van Pretoria-Noord het vir Stoffel ‘n gedenkdiens gehou. (Foto: Verskaf)

Stoffel het destyds gesê hy is mal oor sy werk. “Dis ʼn kans om mense regtig te help. Party polisiemanne word gebore en ander is net daar om ʼn salaris te kry. Ek is gebore om ʼn polisieman te wees.”

Holtzhausen was ongeveer 27 jaar lank in diens van die polisie, waarvan 22 jaar in Pretoria‑Noord was.

Die gemeenskap van Pretoria‑Noord het Holtzhausen Saterdagaand tydens ʼn gedenkdiens by ʼn sportstadion in die omgewing gegroet. Hy laat sy vrou en twee kinders, onderskeidelik 19 en 21 jaar oud, agter. Huldeblyke het ook op sosiale media ingestroom.

“Hy was ‘n voorbeeld vir ons almal…
Hy het sy roeping wat God op aarde vir hom gegee het ten volle uitgeleef vir elke mens in Pretoria Noord,” skryf ‘n Facebook-gebruiker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Shakespeare ·

Ek verpes n motorfiets. Dis werklik ‘n doodskis op wiele. Ek het amper my broer ook verloor met die doodskis tuig.

Boklam ·

Het self motorfiets gehad en gery, ons 20 jarige seun 5 jaar gelede verloor agv ongeluk tussen motorfiets en motor. Het ons motorfiets verkoop weens finansiële nood. Sal sonder huiwering weer een aanskaf. Die probleem is nie die motorfiets nie maar die idiote met 4 wiele wat ry soos hulle wil of dan net blote ongeluk soos in hierdie geval waar donkergeklede voetganger / donker voertuig in ‘n swak verligte straat oor die pad voor jou beland.

Bigshow ·

Shakespeare enige voertuig kan n “doodskis op wiele” wees, ons wat hierdie “doodskistuie” ry is terdee bewus van die gevare daar aan verbonde. Hierdie man is dood omdat n voetganger en nie iemand op n “doodskistuig” nie gekyk het waar hy/sy gaan!

Mariaan ·

Ek VERSTAAN nie die lewe nie…ipv om die goeies te ” bewaar” word hul weggeneem…die slegtes leef voort en vernietig als…HOEKOM..wat kan tog die doel wees????

SjN ·

Tragies, sterkte aan sy geliefdes, en wat gebeur met die voetganger ?

daarsdit ·

Niks, my broer is dood agv motorfiets wat reg voor hom ingery het, hy het uitgeswaai om hom nie te tref nie. Die man het op die selfde plek as hy gewerk en het net na die tyd gese hy’s jammer, het geen verkeer gesien nie, blinde kol. Maar my broer is weg vir ewig.

ronel ·

Stoffel was ‘n lag mens, ‘n help mens, en het altyd sy bes gedoen om reg te doen. Sy gemeenskap sal hom ongelooflik mis, ek het die voorreg gehad om Stoffel voor my te sien groot word, en ek weet sy pa het baie kop geskud oor hom, en trots geglimlag. Neef, jou dood het n groot boom laat val dis verseker!

Harley Davidson ·

N goeie mens en polisie man ,as almal maar net soos hy was ek ken hom nie maar saluut jy het ‘n “legacy” agtergelaat.

Lindi ·

Stoffel het ‘n BAIE groot diens gedoen in my persoonlike lewe! As dit nie vir hom was nie, was my kleinkinders nie vandag hier nie. My hart is bitter seer oor die verlies van die mens. RIV Stoffel!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.