Motorfietsongeluk: Matrikulant was almal se held

Shelby van Wyk (Foto: Verskaf)

“Hy het almal se lewe aangeraak. Baie leerders het hom as hul held beskou.”

Só sal Shaun van Wyk sy geliefde seun, Shelby van Wyk (18), onthou wat Saterdag onverwags van hulle weggeneem is. Shelby is Saterdag in Vanderbijlpark in ʼn motorfietsongeluk oorlede. Sy vriendin, Jané Vorster (13), is tydens die ongeluk ernstig beseer. Jané sterk tans in die hospitaal aan, waar sy vanmiddag (Dinsdag) vir ʼn tweede keer geopereer word om haar pelvis te heg.

Shelby was een van ’n tweeling en ’n matriekleerder aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark. Sy pa vertel hy was nie ’n uitblinker op skool nie, maar was altyd gewillig om alles te probeer. Hy was lief vir rugby en het ’n paar keer vir die skool se tweede rugbyspan uitgedraf. Fietsry was sy passie.

Shaun vertel sy seun sou ná matriek ’n paar kursusse in wilds- en plaasbestuur gedoen het.

Shelby en sy meisie, Nadia Groenewald, was skaars twee weke saam toe die ongeluk gebeur het.

“Motorfietsry was sy groot liefde. En dit het toe op die ou end sy einde beteken,” vertel Shaun.

Maroela Media het vroeër berig Shelby en Jané het Saterdag ’n ent op sy motorfiets gaan ry. In President Steynstraat in Vanderbijlpark het hul motorfiets teen ’n ligte voertuig gebots. Paramedici van ER24 het omstreeks 17:20 op die toneel aangekom. Hulle het Shelby en Jané in die middel van die pad aangetref.

Shelby het noodlottige beserings in die ongeluk opgedoen en hy is op die toneel dood verklaar.

Jané is ernstig beseer en na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton geneem. Volgens haar pa, Chris Vorster, gaan dit al beter met haar.

“Haar pelvis is gebreek en haar enkel gekraak. Sy sukkel ook met ’n oop wond aan haar enkel. ’n Deel van haar skedel is ook gekraak,” het Chris aan Maroela Media vertel.

Jané Vorster (13) en Shelby van Wyk (18) (Foto: Verskaf)

Jané se pelvis word Dinsdag 14:00 weer geopereer nadat sy reeds Sondag vier uur lank in die teater was. Dokters moet haar pelvis probeer heg nadat dit in die ongeluk verdeel het.

Chris vertel hulle mag haar weens die Covid-19-gesondheidsprotokol nie by die hospitaal besoek nie. “Ons het vir haar ’n foon gestuur. Die verpleegster in die intensiewesorgeenheid gee die foon vir haar sodat ons met haar kan praat,” vertel hy.

Chris sê hulle het Jané van Shelby se afsterwe verwittig en dit het haar baie geskok. “Hulle was baie goeie vriende. Van die eerste dag dat sy as graadagt-leerder in Hoërskool Driehoek ingestap het, was hulle al maats.”

Shelby was baie gewild en het sy vriende se lewe aangeraak, vertel Shaun. “Hy het amper te veel maats gehad. Hy wou almal altyd op ’n beter plek sien. Ons is stomgeslaan oor hoeveel kinders hom as hul held beskou het.”

Shaun vertel Shelby was ook soms stout. “Balhorig. Maar hy het ook altyd geglimlag, drukkies gegee. Gelag uit die diepte van sy maag. Hy het als voluit gedoen. Ons as ouers het meer by hom geleer as hy by ons.”

Shelby word oorleef deur sy tweelingbroer, Cee-Jay, sy ouer broer, Damian, sy stiefsusters, Cayla en Natanya, stiefbroer, Willem jr., sy pa, Shaun, en stiefma, Chantell van Wyk, asook sy ma, Jo-Ann Myburgh, en stiefpa, Willem Myburgh.

Shaun sê hulle is besig met sy begrafnisreëlings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Melanie ·

Dit is n vreeslike verlies vir enige ouer om n kind te verloor.. my hart bloei vir jul, sy sussies en boeties asook al sy vriende,. Mag Jesus jul troos in die moeilike tyd. Baie sterkte aan Jane … Mag jy tenvolle herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.