Drie mans, waaronder ’n matriekleerling aan Hoërskool Montana in Pretoria, het die afgelope drie dae in afsonderlike motorfietsongelukke gesterf.
ʼn 52-jarige man is Maandagmiddag in Lavenderweg in die noorde van Pretoria in ʼn ongeluk dood. “Volgens ooggetuies het die man beheer oor sy motorfiets verloor en geval,” het Mirna Von Benecke, ʼn polisiewoordvoerder van die Sinoville-polisiestasie, aan Maroela Media gesê. Sy motorfiets het gegly en teen ʼn ander voertuig gebots. Die man, wie se naam weerhou word totdat sy naasbestaandes in kennis gestel is, is op die toneel dood verklaar.
Brandon Fifield (18) is Vrydagaand omstreeks 23:00 dood nadat sy motorfiets ʼn Ford Ranger-bakkie op die hoek van Dr. Swanepoelweg en Derdestraat in Montana, ook in die noorde van Pretoria, getref het. Hy is ook op die toneel dood verklaar.
Fifield en sy vriend, Jurgen Appel, was albei op die motorfiets. Appel is met ʼn ambulans na die nabygeleë Montana-hospitaal geneem.
Isak Jacobs, die hoof van Hoërskool Montana, het gesê hy, die personeel, beheerliggaam en medeskoliere betuig hulle innige meegevoel met Fifield se familie. “Ons bid hulle Sy vertroosting toe,” het hy op die skool se Facebook-blad gesê. Hy het gesê dit gaan goed met Appel en het hom ʼn vinnige herstel toegewens. Von Benecke het gesê ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek.
Intussen is Fernando “Goosi” Ferreira, die adjunkpresident van die Blazing Aces-motorfietsklub, Saterdag ook in ʼn ongeluk op die N12 in Boksburg, Ekurhuleni oorlede. Hy laat sy verloofde en jong dogtertjie agter.
Dis met groot hartseer wat ek hier gelees het.
Baie sterkte aan elkeen se geliefdes, afskeid is en bly bitter swaar.