Motorfietsryer ernstig beseer ná val in Drakensberge

Netcare911 reageer op ‘n noodgeval in die Drakensberge. (Foto: Verskaf)

ʼn Motorfietsryer is ernstig beseer toe hy van sy fiets geval het in die Okhahlamba-bergreeks, ʼn deel van die Drakensberge, in KwaZulu-Natal. Die 57-jarige man het vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor en teen ʼn steil berghang afgeval.

Paramedici van Netcare911 het Saterdagoggend die man te hulp gesnel in dié afgeleë gedeelte van dié bergreeks.

“Paramedici, lede van die Okhahlamba-beskermingsdiens, bewaarders van Ezemvelo-natuurlewe in KwaZulu-Natal en ʼn aantal motorfietsryers het byeengekom by die verste punt wat nog moontlik met voertuie bereik kan word. Die span het toe te voet met ʼn staproete langs die berg afgeklim,” het Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare911, Sondag in ʼn verklaring gesê.

Netcare911 reageer op ‘n noodgeval in die Drakensberge. (Foto: Verskaf)

“Inligting dui daarop dat die motorfietsryer beheer oor sy fiets verloor het terwyl hy oor klipperige terrein gery het. Die uiteinde was dat die man ʼn hele ent ver teen die steil berghang afgeval het.”

Die motorfietsryer is laatmiddag opgespoor in ʼn gebied wat nie met ʼn voertuig bereik kon word nie. Die man was ernstig beseer en is op die toneel behandel.

“Weens die erns van sy beserings is ʼn Netcare-helikopterambulans onbied om die man na ʼn nabygeleë hospitaal te vervoer waar hy spesialisbehandeling kon ontvang,” het Herbst gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Sonder om kleinlik te wees, is dit nie steil in plaas van styl nie? Nogtans baie dankie vir ‘n puik blad!

Sune van Heerden ·

Dagsê Johan

Dankie vir jou boodskap.
Ons vra om verskoning – dit is beslis ‘n yslike fout!
Ons het die berig gewysig

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Prikkie ·

Suné, dit is vir my opvallend dat jy, lees Maroela Media, nooit skroom om te erken as daar ‘n fout was nie en dit dan dadelik regstel.

Dit is regtig puik en verdien voorwaar ‘n kompliment.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.