Motorfietsryer-moord: Verdagte kry borgtog

Justin de Freitas en sy vrou Vicky. Foto: Verskaf.

Justin de Freitas en sy vrou Vicky. Foto: Verskaf.

Die motorfietsryer Paul Carr (42) wat daarvan verdink word dat hy glo ʼn ander motorfietsryer, Justin de Freitas (32), Saterdag in die vroeë oggendure buite ʼn kroeg by ʼn oord naby Polokwane in Limpopo met ʼn mes doodgesteek het, is Donderdag op borgtog vrygelaat.

Kapt. Mohlaka Mashiane, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê die verdagte het in die Polokwane-landdroshof verskyn en staan tereg op ʼn aanklag van moord.

“Hy is op borgtog van R1 500 vrygelaat op voorwaarde dat hy sy paspoort inhandig en nie met die ooggetuies inmeng nie,” het Mashiane gesê. Carr moet weer op 14 Augustus in die hof verskyn.

Intussen het die polisie bevindinge van die nadoodse ondersoek aan De Freitas se familie bekend gemaak. Die ondersoek het gewys dat De Freitas geen merke of kneusplekke aan sy liggaam opgedoen het nie, wat aandui dat hy nie in ʼn vuisgeveg betrokke was voor sy dood nie.

Maroela Media het vroeër berig De Freitas is Saterdag in die vroeë oggendure by die Soetdorings-buiteklub, sowat 3 km buite Polokwane, vermoor, vóór ʼn motorfietssaamtrek later die dag begin het. Motorfietsryers van ander dorpe het glo Vrydagaand by die oord oornag en De Freitas het as kroegman gaan uithelp. Hy is na bewering doodgesteek nadat die kroeg toegemaak het en hy met sy bakkie wou terugkeer na Polokwane.

Daar word nou vermoed dat ʼn woordewisseling tussen die twee mans ontstaan het, waarna die verdagte ʼn mes uitgeruk en De Freitas in sy bors gesteek het. Hy is op die toneel dood. Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.

Carr, van Middelburg in Mpumalanga, is kort daarna in hegtenis geneem en het Dinsdag die eerste keer in die Polokwane-landdroshof verskyn, waartydens borgtog geweier is.

De Freitas se gedenkdiens vind Vrydagmiddag by Soetdorings plaas. ʼn Stoet vertrek om 13:30 van Martins Funerals in Schoemanstraat na Soetdorings waar sy gedenkdiens om 14:30 gehou sal word.

De Freitas laat sy vrou, Vicky, dogter Loudene (15) en twee seuns, Miguel (11) en Tristan (7), agter.

Lees alle vorige berigte oor Justin de Freitias op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.