Motorfietsryer sterf in Pta-botsing

Paramedici op die toneel. Foto: Verskaf

ʼn Motorfietsryer is Maandagmiddag dood toe hy teen die agterkant van ʼn vragmotor op die N14-snelweg in Centurion gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing het in die noordelike baan van die snelweg, naby die Wierdaweg [M10]-afrit, plaasgevind en tot gevolg gehad dat die hoofweg vir verkeer gesluit moes word.

“By paramedici se aankoms op die toneel is die man se liggaam langs sy motorfiets se wrak aangetref. Die vragmotor het ʼn kort entjie verder aan die kant van die pad tot stilstand gekom,” het Meiring gesê.

Die man het veelvuldige beserings opgedoen. “Niks kon vir die man gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.

Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd.

Die presiese oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie en die owerhede stel ondersoek in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.