Motorfietsryer sterf ná kar en trok hom tref

Argieffoto

ʼn Motorfietsryer is Donderdag dood nadat hy eers deur ʼn voertuig en toe deur ʼn vragmotor op die N3-snelweg in Johannesburg getref is.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het die oggend op die N3-Noord in Buccleuch plaasgevind.

“Die man is van sy motorfiets afgeslinger ná ʼn botsing tussen die motorfiets en ʼn motor, waarna die man onder die vragmotor beland het,” het Meiring gesê. “Met paramedici se aankoms op die toneel was die polisie reeds daar en besig om verkeer te herlei. Al drie voertuie is in die tweede baan van links aangetref.”

Die man se liggaam is onder die vragmotor se wiele aangetref.

“Die man was ongelukkig reeds dood weens veelvoudige beserings. Niks kon vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar.”

Die bestuurders van die motor en vragmotor is ongedeerd.

Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.