Motorfietsryer sterf toe vragmotor oor hom ry

Foto: Rescue Care

Foto: Rescue Care

ʼn Motorfietsryer, vermoedelik in sy 40’s, is Maandagmiddag dood toe ʼn vragmotor in Durban oor hom gery het.

“Die ongeluk het op die M7 naby Malvern plaasgevind,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, gesê. “Die man was in ʼn kritieke toestand toe paramedici by die toneel opgedaag het. Alle pogings om die man te red was egter tevergeefs. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Omstanders voer aan die sleepwa van ʼn verbygaande vragmotor het die man getref en hom van sy motorfiets afgeslinger. Hy het glo onder die wiele van dieselfde vragmotor se sleepwa beland.

Verkeersowerhede was op die toneel om ondersoek in te stel en Zinhle Mngomezulu, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse Padverkeersinspektoraat het gesê beamptes het vinnig hul kollegas in Pinetown in kennis gestel en hulle kon die vragmotor voor die Mariannhill-tolplaza op die N3 voorkeer. Volgens Mngomezulu het die vragmotorbestuurder gesê hy is nie bewus dat hy in ʼn ongeluk betrokke was nie.

Die vragmotor is na die Padverkeersinspektoraat se Rossburg-perseel geneem en die bestuurder staan tereg op aanklag van strafbare manslag.

Die M7 is die hoofpad wat die N3 met Durban se hawe verbind en dit word gevolglik deur baie vragmotors gebruik wat goedere na en van die binneland se sentra soos Pietermaritzburg, Bloemfontein en Gauteng vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karolis ·

Ter inligting aan die bestuurder van die vragmotor: die kolosale truspieels weerskante op ‘n vragmotor is daar om in te kyk wat agter en langs jou aangaan. (‘n strafbare oortreding as jy tydens jou WETTIGE bestuurderslisensie toetsrit nie daaraan voldoen nie) Baie moeilik om te beweer hy weet van niks. Hy het dan verby die motorfiets gery.

Lana ·

So kom die ouens wat die trokke bestuur nooit iets oor nie! Hulle ry asof die duiwel agter hulle is! Dis so hartseer dat iemand se dood veroorsaak word deur ‘n ander wat geen respek het vir ander padgebruikers nie

Koos ·

Ek wil graag vir die vragmotor bestuurders in algemeen opkom. Ek het self ‘n kode 14 lisensie en baie km’s onder die belt. As jy lings draai met jou vragmotor, kan jy nie die sleepwa sien nie, feit. As daar ‘n motor of motorfiets langs jou sleepwa stop, wat nie daar was voor jy begin draai het nie, sal jy nie weet dit is daar nie. Ook sal jy nie hoor of voel as jy dit tref of oor ‘n liggaam ry nie. Ek wil nie onsensitief wees nie, maar het al hordes kere dit beleef (Gelukkig sonder enige gevolge.). Motors jaag ook voor vragmoptors in en trap rem. Dit vat 50 ton met 14 wiele op die pad baie langer om te stop as ‘n motor van 2 ton met 4 wiele. Almal moet asb ook dink daar aan dat bykans alles in die land met vragmotors vervoer word, en die vragmotors moet die meerste betaal vir alles, lisensie gelde en tol gelde. Die respek op die pad moet na beide kante gaan. Gaan ry ‘n slag in ‘n vragmotor en sien dan waaroor dit gaan. Die informasie in die berig is te min om te bepaal wat werklik gebeur het.

SNEL ·

Ek stem saam Koos, mens weet om nie langs n vragmotor in te kom wat wil draai nie juis omdat daai trokke in jou baan kan beweeg en omdat die bestuurder se sig belemmer is, mens moet vir jou eie veiligheid jou afstand hou en nooit n vragmotor wat wil draai verbygaan nie.
Ek was nie hier en weet nie wat het gebeur, al hoop is dat die ongeluk goed ondersoek word. Baie sterkte aan die oorledene se familie.

ig ·

Stem 100% saam met Koos.Die feite van die voorval is nie beskikbaar nie maar my mening is dat motorfiets ryers meer kanse vat as vragmotorbestuurders.Geduld is ook n ding wat maal yl gesaai is in ons land se bestuurders.

Se maar net ·

Ek stem saam Koos…… In ons omgewing is hier ongelooflik baie trokke. Baie van hul ry mooi en ander voel net n veer oor hoe hulle ry…. Maar net so die mense op motorfietse en in voertuie. Die inligting in die berig is te min om te se wie is skuldig en wie nie. Dis jammer dat iemand sy lewe verloor het, maar sodra ons nie respek vir mekaar begin wys op ons paaie nie gaan dit nie beter raak nie.

Natascha Breedt ·

Ek verstaan, maar sommige van die trok bestuurders ry soos die taxi bestuurders. Dink hul is bo die wet verhewe. En die spoed, boeta, def nie 80km n uur. Jammer vir die ou op die motorfiets se familie en vriende. Ons innige simpatie. Ons gebedes is met jul.

Anna-Marie ·

Ongelukkig moet ek met Koos saam stem. Voertuie en motorfietse dink hulle kan saam met n trok om n draai gaan! Menige ongelukke in Pretoria middestad gesien agv swak besluite van motoriste wat glo dat die trok in een baan kan draai. My innige simpatie aan die familie van die oorledene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.