Motorfietsryer tydens transitorooftog geskiet

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Motorfietsryer is Maandagaand geskiet toe hy hom in die middel van ʼn transitorooftog naby Krugersdorp bevind het. Die motorfietsryer het glo gesien hoe rowers die geldwa opblaas. In die proses het die verdagtes se eie voertuig, ʼn Mercedes‑Benz, ook aan die brand geslaan.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn groep gewapende mans om 18:30 op ʼn G4S-geldwa toegeslaan het. Die wa was vanaf Lenasia na Boltonia onderweg ten tyde van die voorval.

“Op pad Krugersdorp toe het ʼn wit Mercedes‑Benz teen die geldwa vasgery, wat daartoe gelei het dat die wa gerol en weer op sy wiele beland het,” sê sy.

“Nog verdagtes het uit ander motors gespring en die veiligheidswagte opdrag gegee om die kluis oop te sluit. Die veiligheidswagte is toe na ʼn nabygeleë oop stuk veld geneem en van ʼn pistool beroof.”

Nadat die verdagtes ʼn onbekende bedrag geld gebuit en die transitowa opgeblaas het, het hul Mercedes‑Benz ook in vlamme opgegaan.

Intussen het die verdagtes bewus geword van ʼn motorfietsryer wat die hele voorval sien gebeur het.

Terwyl die verdagtes glo in ʼn grys afleweringsvoertuig, twee wit sedans en met ʼn onbekende bedrag geld op die vlug geslaan het, het hulle op die motorfietsryer losgebrand.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê paramedici het die beseerde man omstreeks 19:00 langs die pad aangetref.

“Die man is in een van sy knieë geskiet en is vir matige tot ernstige beserings behandel,” sê sy.

“Paramedici het hom op die toneel gestabiliseer en vir verdere behandeling na ʼn hospitaal geneem.”

Volgens Mathe is die veiligheidswagte ook na ʼn plaaslike hospitaal geneem waar hulle vir matige beserings behandel is.

“Polisie in Gauteng werk steeds hard om die verdagtes op te spoor en vas te trek.”

Die polisie het ook ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om na vore te kom met enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Ook lankal gese hulle moet iets implimenteer wat die geld vlek sodra die ATM’s of geldwaens opgeblaas word. Dit sal verhoed dat hierdie rooftogte plaasvind want die geld sal onbruikbaar wees. Net bly die motorfietsryer is nie dood nie.

JohanR ·

Janine eerder ANC wat geld soek om hulle werkers se salarisse te betaal.

Misky ·

SA het daagliks die “wenresep” vir enige aksie belaaide draaiboek vir die rolprentbedryf

Kokerboom ·

Die boewe moet nie opgesluit word maar gefusileer word. Hul het GEEN ontsag vir menselewens. Terrorisme op groot skaal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.