Motorfietsryer uit diep kloof gered

Die man is ernstig beseer nadat hy by ʼn krans in Pelgrimsrus afgerol het (Foto: Verskaf)

ʼn 35-jarige man is uit ʼn 30 m diep kloof gered nadat sy motorfiets ʼn randsteen getref en hy teen ʼn krans van die Rowerspas naby Pelgrimsrus, Mpumalanga, afgerol het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is paramedici en ʼn bergreddingseenheid Sondag omstreeks 13:00 na die toneel ontbied. Die man is in die kloof aangetref.

“Paramedici en reddingwerkers het met behulp van toue in die krans afgedaal om die man te red,” sê Meiring.

“Die man het talle ernstig beserings opgedoen en was in ʼn kritieke toestand. Paramedici het hom op die toneel behandel voordat hy per helikopter na Mediclinic Nelspruit geneem is vir verdere mediese behandeling.”

Willie Nel, ʼn inwoner van Pretoria, vertel hy en sy gesin was op pad van die Krugerwildtuin terug huis toe, toe hulle op die ongelukstoneel afgekom het. Die pad was vir verkeer gesluit en hy sê hul reis is met omtrent twee uur vertraag.

“Ons het op die toneel gehoor dat die man glo nie sy draai behoorlik kon kry nie en toe ʼn randsteen met sy motorfiets getref het. Hy het van die motorfiets afgeval en teen die krans afgerol,” vertel Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Dis een gevaarlike kronkelpad daar met dosyne skerp draaie. Ek het al gesien hoe roekeloos jaag die motorfietsryers daar. Een glipsie kan fataal wees.

Willem ·

Ek het self daai pad al baie gery met ‘n motorfiets. Dis ‘n baie lekker pad om te ry, maar my beleid is om binne my baan te bly en voor ek kanse waag gaan ry ek eers die pad “heen-en-weer” en verstaan wat op die pad-oppervlak aangaan en die gevare (al het ek die pad voorheen baie gery). As motorfietsryer self is een van my grootste vrese daardie onverskillige ouens wat dink hulle is Marc Marques en ‘n motorfiets kop-aan-kop botsing veroorsaak omrede hulle dit oordoen en nie vooraf/deurgaans “escape routes” het nie!

SjN ·

Lelike voet foutjie, vertrou die man hestel ten volle van sy pyne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.