Motorfietsryers spook lank om tiener by oord te red

Herculaas Taljaard, ʼn lid van die Wheels in the Sky-motorfietsklub. (Foto: Verskaf)

Motorfietsryers van die Wheels in the Sky-motorfietsklub het Saterdag tevergeefs probeer om ʼn 14-jarige meisie by te bring wat met ʼn tou om haar nek by die Steve’s Place-kampeerterrein in Witbank, Mpumalanga, gevind is.

Die tou was aan boom vasgebind en die meisie, wie se identiteit nie bekend is nie, het glo in ʼn oënskynlik ongemaklike posisie teen die boom gesit toe besoekers aan die oord op haar afgekom het.

Dit is nie duidelik wie eerste op die toneel was nie, maar lede van die motorfietsklub het onmiddellik ingespring om te help. Na wat verneem word, het die meisie saam met haar gesin by die oord gekamp. Die presiese omstandighede rondom haar dood is nie bekend nie.

Herculaas Taljaard, ʼn lid van die klub se tak in Middelburg, sê hulle het ʼn uur lank gespook om haar lewe te red.

“Ons was net-net te laat. Haar lyfie was nog warm toe ons met noodhulp begin het.”

Motorfietsryers wat aan dié klub verbonde is, het die afgelope naweek van regoor die land by dié oord uitgespan vir hul jaareindfunksie.

Volgens Taljaard het lede van die groep omstreeks 22:00 na hul kampterrein teruggestap om speserye vir die braaivleis te gaan haal toe hulle mense om ʼn boom sien saamdrom het.

“Teen die tyd wat ek by die toneel aangekom het, was twee van ons ander [klub-] lede reeds besig om mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering toe te pas. Hulle het ook die tou, wat losserig om haar nek gebind was, losgesny sodat sy kon lê.

“Ek het ook ʼn noodhulpagtergrond en het gaan help om vir ʼn pols te voel. Nou en dan het dit gevoel of sy gaan bykom, maar ek dink sy was reeds dood toe ons daar aangekom het.”

Volgens Taljaard het hulle die ER24-nooddienste ontbied, wat die motorfietsryers ook oor die foon met noodhulptoepassingswenke bygestaan het.

Die tou was aan dié boom vasgebind. (Foto: Verskaf)

“Nooddienswerkers het haar by hul aankoms op die toneel dood verklaar. Daar was geen hartklop nie.

“Ek het toe ʼn silwer kombers, wat ek by die ambulansdienste gekry het, oor haar liggaam gegooi. Ek het ook ʼn handdoek bo-op gesit sodat die kombers nie afwaai nie.”

Volgens Taljaard het die meisie se ma gevra dat hy haar dogter op haar skoot neerlê.

“Ek het haar opgetel, op haar ma se skoot gesit en haar oë toegemaak.

“Haar ma het kort daarna opgestaan en weer ʼn ent verder gaan sit. Van ons lede het toe vir haar gaan bid,” sê Taljaard.

Taljaard sê die voorval het ook ou wonde in sy eie lewe oopgekrap.

“Ek het my eie kind in 2013 verloor, dit was ʼn wiegiedood.

“Toe ek daai kind daar sien lê het ek net geweet ek moet sterk wees en gaan help. Ons het regtig ons bes probeer.

“Ek weet hoe dit voel om iemand wat jy liefhet te verloor.”

Maroela Media het die oord om kommentaar genader, maar nog nie terugvoer ontvang nie. Die polisie kon ook nie bevestig of daar ondersoek na haar dood ingestel gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakez

Tragies

Misky

Sjoe, dis baie hartseer en die meisie nog so jonk. Maar iets maak nie lekker sin nie en dit klink nie na selfmoord nie. Niemand bind ‘n tou so vir selfmoord en sy moes langs die boom dan gesit het. Iets strook nie en hoop die ware gebeure kom uit. RIV

Anton

Ag nee

Toy

Sjoe dit is hartseer. Baie sterkte aan die familie.

Gerhard

So hartseer dat dit gebeur het. baie sterkte aan die familie. Dankie ook vir die mense wat bereid was om iets te doen en nie net op die kant bly sodat hulle nie hoef betrokke te raak nie.