Kliënt vir luukse BMW doodgeskiet

Die luukse BMW wat by die motorhandelaar gebuit is. (Foto: Verskaf)

‘n Kliënt van ʼn motorhandelaar in Polokwane is Maandagmiddag doodgeskiet voordat twee verdagtes ʼn luukse BMW uit die handelaar se vertoonkamer gesteel het.

Een van die vermeende moordenaars se rit was egter van korte duur nadat die polisie hom in die motor betrap het.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê twee verdagtes is na bewering Maandagmiddag by ʼn plaaslike BMW-handelaar in Nirvana in waar hulle vuurwapens op die bestuurder gerig het.

“Hulle het daarop aangedring dat die kliënt, wat sy motor ingebring het vir ‘n diens, die sleutels van sy BMW oorhandig,” sê hy.

“Die verdagtes en die 57-jarige kliënt was egter in ʼn onderonsie betrokke en die kliënt is op ʼn kort afstand geskiet. Hy is op slag dood.”

Die verdagtes het die sleutels geneem en met ʼn goudkleurige BMW van die toneel gevlug.

Die polisie is oor die voorval in kennis gestel en het kort daarna een van die verdagtes langs die Peter Mokaba-stadion in hegtenis geneem. Dié het glo in die stilstaande motor wat by die handelaar gebuit is, gesit.

Die polisie het ook beslag gelê op twee vuurwapens.

“ʼn Saak van moord en sakeroof is geopen en die soektog na die oorblywende verdagte duur voort.”

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het lede van die gemeenskap versoek om met enige inligting na vore te kom wat die polisie sal bystaan om die ander verdagte vas te trek.

“Inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagte kan aan die ondersoekbeampte, kapt. Ntlane Rasedile, by 082 565 8566 aangemeld word,” het hy gesê.

Die polisie se ondersoek duur intussen voort.

  • Die polisie het aanvanklik gesê dat die slagoffer die bestuurder van die motorhandelaar is. Dit is egter later reggestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JM ·

Gaan die waansinnigheid om net te moor ooit in hierdie land stop? Hoe is dit moontlik dat bykans elke jan rap en sy maat ‘n vuurwapen het?

Francois ·

JM – die polisie sal jou seker kan antwoord op jou vraag….?

Jacobus ·

Dit is vuurwapens wat wetsgehoorsame burgers ingehandig het wat nie deur hierdie nuttelose vuurwapen lisensie proses wil gaan nie wat uitgedeel is aan ANC terroriste.

LIEZL ·

Onwettige gun shopping. As jy ‘n wettige vuurwapen eienaar is, dan doen jy als volgens die wet

Misky ·

Die betrokke BMW in die foto lyk beslis nie soos ‘n goue kleur nie. Simpatie met die bestuurder se naasbestaandes. Net nog ‘n man, moontlike pa, broer en vriend wat sy lewe verloor deur ‘n eerlike bestaan te maak.

Henri ·

Die misdaad is skreiend in ons land. My hart gaan uit aan alle families wat geliefdes só sinneloos aan die dood afstaan.

Dis net interessant dat besighede só geweldadig geteiken word in Polokwane die laaste ruk. Die ontvoering van die Moti-boeties, die moord op Lizette Deacon en haar ma Hettie en nou hierdie geval.

SjN ·

Die misdadigers weet dat hul wegkom agv onvolledige ondersoeke wat jare vat voor hul voorkom, kry na n paar dae borg en verdwyn.

Swerwer ·

Ongelukkig is ;net die ANC te blameer vir hierdie wettelose lewensstyl van die wesens.

efjy ·

Geen borg vir die persoon wat in hegtenis geneem is nie. Hy kan ook sommer vir die polisie help om sy medepligtige vas te keer. Hy weet mos presies wie dit was. Maak hom praat en vergeet van ” mense regte”. Aan die arme bestuurder van die motorhandelaar was geen mense regte gegun nie.

Pablo ·

Die polisie vra vir die hulp van die wetsgehoorsame burgers om die mede skurk aan te keer terwyl die skurk in aanhouding presies weet wie sy mede moordenaar en rower is.

Charles ·

Ek stem saam met JM, en vra of die waansinnigheid ooit gaan end kry? Mense sê dat die doodstraf nie help as afskrikmiddel nie. Stel dit weer in en die moord en verkragting van vroue en kinders sal afneem, daarna kan dit mos weer afgeskaf word.

domheks ·

As ons regstelsel net kon gewerk het. Maar hulle weet ‘our people’ kan maar die ligte vonnisse uitdien, dan kry hulle parool deur die prez, en doen maar weer voort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.